Kragtige gebede in eMalahleni gehoor
“Ons is in die hier en nou omdat dit deel van God se volmaakte plan is,” was die boodskap aan vroue wat die Ester-konferensie bygewoon het.
Die afgelope naweek het vroue van regoor die provinsie en selfs verder bymekaar gekom vir die Ester-konferensie.
Vir die organiseerder van die konferensie, Michelle Schoultz, was hierdie konferensie die perfekte agtergrond om 160 vroue onder een dak te kry om die manne wat die Mighty Men Hoëveldse konferensie ‘n paar kilometer verder bygewoon het, en ook die Adamgeslag in geheel in gebed te versterk.
SIEN DIE VIDEO HIER
Die boodskappe van genesing, gebed en hoop wat op 28 Februarie gehoor is, het konferensiegangers weereens laat besef watter belangrike rol hulle speel.
Gasspreker Nedene Genis het gedeel dat vroue soms hulle pragtige nuwe grimeersakkies moet uitpak en die ou fisiese rommel soos die haardroër met sy opgekrulde kabel en die stukkende borsel wat daarin is, moet weggooi.
“Goed wat nie by jou pas nie, moet jy weggooi. Alles wat nie vir jou bedoel is nie, wat nie deel van jou porsie is nie, wil God wegvat,” het sy gesê en haar lewensverhaal van ‘n jong ma en vrou met ‘n alkoholverslaafde man, vertel.
SIEN AL DIE FOTO’S HIER:
Baie water het intussen in die see geloop en die afgelope naweek was haar man, Eugene Genis, een van die gassprekers by die Mighty Men Hoëveld Samekoms.
“Deur te bid, kan jy ‘n kroon op iemand se kop sit,” het sy gesê.
Amanda le Roux het in haar spreekbeurt gesê die bloudruk van ons lewens is reeds geskryf, net soos wat Ester se bloudruk geskryf was toe sy as weeskind die oog van koning Ahasveros van Persië gevang het.
Deur die verloop van gebeure het Ester dit reggekry om haar volk van uitwissing te red. Amanda het die dames geïnspireer om te bid vir hul families omdat gebed die kragtigste wapen is.
View this post on Instagram
Michelle het dit alles bymekaar gesit en gesê, “Ons is nou deur God in die tydperk gesit om ‘n verskil te maak. Ons is in die hier en nou omdat dit deel van God se volmaakte plan is.”
Daar was ongeveer 3 000 pa’s en seuns by die Mighty Men Konferensie.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za



























































