Local newsNews

‘Help my seun asseblief,’ smeek ma

Daar word ‘n dringende beroep gedoen om by te dra tot Lukie se BacknBuddy-veldtog sodat hy die regte mediese behandeling kan kry.

’n Ma is in ’n resies teen tyd om fondse in te samel om haar seun na die Life Kosmos-hospitaal te laat oorplaas ná ’n ernstige val.


Lukie du Toit, ’n gehoorgestremde man, het sy balans verloor en geval, wat tot ernstige bloeding op die brein gelei het.

Sy ma, Tienie, het aanvanklik gedink hy het bloot griep.


“Lukie het van erge hoofpyne gekla en ek het gedink dis griep of sinus. Toe ek hom in die vroeë oggendure op die kombuisvloer aantref, het ek hom kamer toe gedra,” vertel sy.

Voedingsbuis en kateter vergete

Lukie is eers na die Impungwe-hospitaal geneem waar daar vermoed is dat hy breinvliesontsteking het.

Hy het egter op 22 Februarie in ’n koma verval.

’n Breinskandering het later getoon dat daar bloeding op die brein is, waarna hy op 26 Februarie na die Witbank-hospitaal oorgeplaas is vir ’n noodoperasie om die bloeding te dreineer.


Alhoewel dit eers gelyk het of hy herstel, het sy toestand agteruitgegaan sedert hy na ’n rehabilitasiesaal oorgeplaas is.

Tienie is baie bekommerd omdat hy koorsig bly en daar herhaaldelik probleme met sy voedingsbuis is. Volgens haar was hy baie lank sonder voeding.


“Lukie het nie verbeter nie. Die verpleegpersoneel het ’n drip ingesit en ’n dieetkundige het voeding voorgeskryf wat deur ’n buis in sy neus moes gaan. Tydens besoektyd, vier dae later, het ek agtergekom die buis is nie meer in sy neus nie. Ek was histeries toe ek besef my kind het die hele dag geen voeding gekry nie.”


Die buis is op aandrang van Tienie teruggesit, maar sy sê sy kateter was ook uit.

“Hulle het eers die volgende dag vir Lukie antibiotika gegee.”

Ma bid vir wonderwerk


Tienie, wat slegs ’n SASSA-pensioen ontvang, het nie die geld om Lukie na die Life Kosmos-hospitaal te laat oorplaas nie.

“Ek smeek die gemeenskap om ons asseblief te help,” het sy tussen haar gebede deur gevra.

“Lukie moet die regte behandeling en sorg kry. By Life Kosmos sal hy die nodige sorg, vitamiene en minerale kry om sy krag op te bou. Ek weet my seun gaan wakker word uit die koma. Ek vertrou op God vir ’n wonderwerk.”


Die koste verbonde aan Lukie se opname by Life Kosmos-hospitaal beloop nagenoeg R300 000.

’n BackaBuddy-skarebefondsingsveldtog is intussen gestig om die nodige fondse bymekaar te maak.


“Help ons asseblief,” was die ma se dringende hartsgebed.

Hoe kan jy help?

As jy wil bydra, kliek hier.

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button