Oom Koos ‘ruik’ sy kamer is mooi
Dié projek gee besighede kans om ’n kamer by Immergroen ‘aan te neem’ en die bejaardes te bederf.
Oom Koos Potgieter het rustig agteroor gesit in sy stoel terwyl sy klere netjies teruggepak was in sy kas.
Alhoewel Oom Koos blind is, ‘sien’ hy elke beweging om hom.
Sy sintuie is so skerp en dit maak op vir sy sig.
“Ai, dit is bakgat, ek kan sommer ruik my kamer is mooi,” het hy gesê.
Oom Koos se kamer was ook deur Laerskool Panorama aangeneem. Die personeel van die skool het die kamer ’n nuwe lagie verf gegee, die bed en beddegoed vervang en vir Oom Koos ’n groot mandjie vol lekkernye op sy bed gelos.
“Ai, dat ek so op my oudag bederf word,” het hy gesê.
Oom Koos het in die vroeë 70s na die destydse Witbank getrek en jare op Highveld Steel gewerk.
“Daardie was goeie tye gewees. Ons het hard gewerk en nog harder saam gelag en geskerts,” het Oom Koos vertel.
Oom Koos het vertel hy het gevra om Immergroen toe te kom, want hy wou nie vereensaam nie.
“Ek het soveel vriende gemaak en laat ek jou vertel, my tydgenote kan nog steeds lekker grappies uitdeel,” het hy geskerts.
Daar is nog 21 kamers wat net wag om ook ‘aangeneem’ te word.
As jy wil inspring en deel word van die projek, kontak Bernice du Plessis: 063 359 2210.
Het jy nuus of ‘n interessante gebeurtenis om te deel? Ons hoor graag van jou! Stuur jou stories, wenke of foto’s per e-pos na info@witbanknews.co.za
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
