Local newsNews

HTS kook met liefde en biltong

Die beoordelaars se keuse was eenparig – daardie biltong en pasta-pot het bo die res uitgestaan.

Die potte het behoorlik saamgeklets tydens die potjiekoskompetisie wat by HTS aangebied was.


Die opwinding het reeds vroeg op 11 April begin en die geesdrif het oorgeloop onder die 11 deelnemende spanne.


Die beoordelaarspan, bestaande uit Zita Goldswain, die bekende Wynand van Vollenstee (Karate Kallie) en Martin Breedt, het hul hande vol gehad.

Daar was skreeusnaakse oomblikke toe deelnemers hul potte moes oopmaak en hul ‘geheime’ bestanddele moes verklap.


Christo van der Merwe het die beoordelaars laat glimlag met die opmerking: “Ek het bietjie Durban ingegooi; die Masalatjie sal nie jou gesiggie afbrand nie.”


Intussen het André Diederiks gesorg dat sy lamskenkelpot behoorlik saampraat.

Sy geheim vir ’n ryk en geurige sous? ’n Goeie skeut bier.


Karel Potgieter was aanvanklik geheimsinnig oor sy resep, maar het later erken dat sy potjie met ‘Clover en baaaaiiiiieee liefde’ gemaak is.


Selfs die skoolhoof, mnr. Paul Liddle, moes voor die beoordelaars verskyn en het na streng ondervraging en laggend verklap dat sy enigste geheime bestanddeel ‘groot liefde’ is.


Dit was nie net die kos wat beïndruk het nie; Esmé Pieterse en Hanlie Snyman het die beoordelaars verras met hul pragtige tafel-dekor wat die atmosfeer verder opgekikker het.


Uiteindelik was die kompetisie tussen die geurige inskrywings uiters straf.


Na strawwe beraadslaging het ’n unieke biltong-en-pastapotjie egter as die algehele wenner uit die stryd getree en die beoordelaars se palette gesteel.


Volgens Michelle en Louis Jordaan van die ouer-ondersteunersklub was die dag ’n reusesukses.

Hulle het bevestig dat die fondse wat tydens die geleentheid ingesamel is, aangewend sal word om behoeftige kinders te ondersteun wat nie oor die nodige middele beskik nie.

LEES MEER HIER: VLU Magnolia het die krag van sorg en samehorigheid tydens hul Paasfees-tema-vergadering ondersoek

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button