‘n Kranige skut van HTS het eMalahleni se hulp nodig om sy internasionale debuut te maak
Die helfte van Jacques Koekemoer se toer na Engeland is al ingesamel, maar die jong skut kort nog R35 000.
Jacques Koekemoer is gekies vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Skole-skuttersunie (SANSSU) se toerspan wat in Augustus na Engeland vertrek om aan die Britse Junior Internasionale kompetisie te gaan deelneem.
Die kompetisie vind van 17 tot 20 Augustus plaas.
Jacques het vertel dat sy insluiting in die nasionale span vir hom ’n groot verrassing was.
“Ek was geskok. Ek het nie geweet of ek moet lag of huil nie. Dit was sonder twyfel een van die beste oomblikke van my lewe.”
Die jongman se passie vir die sport het vroeg reeds vlamgevat.
Hoewel hy van jongs af saam met sy pa gaan jag het, het hy eers in graad agt ernstig agter die luggeweer ingeskuif.
Dissipline en harde werk het vrugte afgewerp en hy het gou sy provinsiale kleure verwerf.
Die sport is nie vir ongeduldiges nie.
“Die sport is uitdagend en verg baie konsentrasie, geduld en deursettingsvermoë. Dit is juis wat ek daarvan geniet. Party dae skiet jy uitstekend, en ander dae voel dit asof jy agteruitgaan – maar dit leer jou om aan te hou werk en gefokus te bly,” het hy vertel.
Jacques het gesê die SA-kampioenskappe in 2023 in Johannesburg was tot dusver sy beste ervaring, omdat dit die heel eerste keer was dat hy op nasionale vlak deelgeneem het.
Dit is nie ‘kinderspeletjies’ om so raak te skiet nie.
“My oefenprogram behels gewoonlik so twee uur se oefening van Maandag tot Donderdag. Dit werk uit op ongeveer agt ure per week wat ek aan my tegniek en voorbereiding spandeer.”
Maar moenie dink Jacques spandeer al sy tyd op die skietbaan nie; daar is ook skoolwerk wat aandag vereis.
“My akademie verg net soveel aandag soos my skiet. Ek spandeer my middae aan huiswerk en leerwerk voordat my pa by die huis kom, en daarna gaan ek skiet toe. Dit help my om ’n goeie balans tussen skool en sport te handhaaf.”
Oor die komende toer na Engeland kan hy nie uitgepraat raak nie.
“Ek wil die hele ervaring ten volle inneem, omdat ek nog nooit voorheen oorsee was nie.”
Na skool hoop Jacques om aan die o18-liga deel te neem.
En het die skut dalk die Olimpiese droom in sy visier?
“Alles hang af van wat ek ná skool gaan doen en waar ek gaan studeer. Dit is beslis iets waarna mens kan mik, maar vir nou fokus ek op die volgende stap en om aan te hou groei.”
Om Jacques te help om oor net twee maande die vliegtuig na Engeland te haal, kan jy op sy BackABuddy-skakel kliek en ’n bydrae tot sy toerfonds maak. Elke bietjie help hom om sy droom te bewaarheid.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
