Buurtwag neem die besem op
Die buurtwag beoog om voortaan elke twee weke saam te kom om hul eie woonbuurt in stand te hou.
Die Blancheville-buurtwag het die afgelope naweek gewys dat gemeenskapsamewerking die sleutel tot ’n skoner omgewing is toe hulle die moue opgerol het om Beitstraat op te knap.
Vroegoggend op 9 Mei het buurtwaglede bymekaargekom om die brug en die veldjies om die bruggie deeglik skoon te maak. Die span het nie op hulle laat wag nie en daar is flink gehark, gevee, geskoffel en gras gesny.
Die voorsitter van die buurtwag, Tertius de Lange, het ook die stukkende ligte by die brug vervang.
Danksy hierdie inisiatief is die brug nou saans helder verlig, wat veiligheid in die area aansienlik verbeter.
Die wykraadslid, Maureen Scheepers, het ook ingespring om ’n handjie by te sit. Sy het onderneem om ’n versoek in te dien dat die stroompie wat deur die buurt vloei, skoongemaak word.
Volgens Scheepers het puin wat tydens die onlangse storms afgespoel het, die bruggie verstop, wat ’n risiko vir die infrastruktuur inhou.
Die buurtwag is vasbeslote om nie hier op te hou nie en beoog om voortaan elke twee weke saam te kom om hul eie woonbuurt in stand te hou.
De Lange het sy dank uitgespreek teenoor diegene wat die dag moontlik gemaak het: OK Panorama vir die koeldrank, AfriForum vir die vullissakke, raadslid Scheepers vir die reëling van die vullishouer (skip), en Christie Groenewald vir die verskaffing van die TLB-masjien.
De Lange moedig almal aan om deel van die inisiatief te word.
Hou gerus die buurtwag se WhatsApp-groep dop vir die komende buurtvergadering waar die volgende skoonmaaksessie bespreek sal word.
“Dit was werklik bemoedigend om te sien hoe die gemeenskap hande vat en saamwerk om hierdie area skoon, netjies en veiliger vir almal in die omliggende woonbuurte te maak. Ja, die munisipaliteit, en meer spesifiek die parke-afdeling, behoort hierdie instandhouding gereeld te doen, maar ons kan nie net terugsit en toekyk hoe ons woonbuurte agteruitgaan nie. Ek wil elke persoon wat opgedaag en gehelp het, opreg bedank en prys vir hul bereidwilligheid om ’n verskil te maak,” het Scheepers gesê.
Sy het bygevoeg sy het ’n verdere uitgebreide lys van gebiede wat dringend skoongemaak moet word, waar gras gesny en bome gesnoei moet word, weer aan die parke-afdeling voorgelê vir dringende aandag.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
