Local newsNewsSportSport

Pa en dogter hardloop vanjaar se Comrades saam

Pa en dogter gaan Sondag saam wegspring in die moordende Comrades Marathon.

Vir die 64-jarige Andries Nienaber en sy dogter, Nicolette Barkhuizen, is vanjaar se Comrades nie sommer net ’n wedloop nie. Dit is ’n emosionele reis.


Vir Andries is dit ’n ‘mighty comeback’ na amper twee dekades en Nicolette hardloop vir haar man wat tydens ’n rugbywedstryd beseer is.


Sy het dit ampertjies nie betyds gemaak nie, maar het reeds veilig geland na ’n vlug vanuit Nederland.

Nicolette Barkhuizen.


Andries wat reeds nege Comrades wedlope agter sy naam het, het 19 jaar terug die pad tussen Durban en Pietermaritzburg aangedurf.

Nou is hy terug om sy 10de medalje los te hardloop.


Dis Nicolette se eerste Comrades.


Andries het vertel die hardloop-gogga het gebyt toe hy iemand wat in ’n emosionele gat was, wou help.


“Daardie ou het reeds drie Comrades wedlope agter sy naam gehad en ek het besef die enigste manier hoe ek by hom sou aanklank vind, was om saam met hom te hardloop. Van toe af het ek net nooit opgehou nie.”


Andries wat 39 jaar as finansiële bestuurder in die mynbedryf gewerk het, het verlede jaar sy tekkies weer afgestof.


Maar, dié terugkeer was nie sonder uitdaging nie en die hardloop-wêreld het in 19 jaar baie verander.


“Die hardloopskoene het baie verander van dit waarin ons destyds gehardloop het. Toe ek weer begin hardloop, het ek die verkeerde hardloopskoene gehad en ek het baie pyne in my bene gehad. Nodeloos om te sê, ek moes vinnig by die sportwinkel uitkom vir ’n nuwe paar, meer moderne hardloopskoene,” het hy geskerts.


Hy het ook gesê die voorbereiding op 64 is glad nie meer dieselfde soos in sy jonger dae nie.

LEES MEER Christian Rautenbach is reg vir die Comrades


Oor die uitmergelende ‘up-run’ is hy baie opgewonde. As ’n korter geboude hardloper verkies hy die opdraandes bo die afdraandes.


“Jy is baie seerder na ’n af-Comrades. Die opdraand is baie beter op die bene.”


Oor die gehate Polly Shortts het hy gesê, “Polly Shortts is aan die einde as jy reeds doodmoeg is. As jy die een oor is, is die einde in sig.”


Andries het gesê hy het nie ’n spesifieke tyd in sig nie, hy wil net binne 12 ure klaarmaak.


Hy het ’n stukkie raad gedeel, “Begin stadig. Die manier hoe jy ’n Comrades klaarmaak, sit in hoe jy jou eerste 40 kilometer hardloop.”


Andries het verlede jaar sy permanente nommer in die Loskop Marathon gekry.

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button