Twee wat verbind word met blouligbende vasgetrek
Die twee mans wat Vrydag in hegtenis geneem is, verskyn vanoggend in die Leslie-landdroshof.

Die polisie het twee verdagtes gearresteer wat moontlik verbind kan word met ’n blouligbende.
Die verdagtes, onderskeidelik 32 en 41 jaar oud, is op 3 Julie in hegtenis geneem tydens ’n stop-en-deursoek-operasie by Devon.
Volgens die polisiewoordvoerder, kolonel Mavela Masondo, het hulle nie gestop nie en weggejaag.
Die polisie het die voertuig uiteindelik in Leslie tot stilstand gedwing.
Die voertuig is deursoek en ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, blouligte en uniforms van die Ekurhuleni-metropolisie en ander polisie-uniforms is in die voertuig gevind.
Die voertuig is glo ook onlangs as gekaap aangemeld.
Die waarnemende polisiekommissaris in Mpumalanga, generaal-majoor Zeph Mkhwanazi, het gesê die arrestasie van die twee verdagtes stuur ’n kragtige boodskap dat die polisie geen misdadigers sal duld wat hulself as wetstoepassers voordoen om onskuldige motoriste te terroriseer nie.
Die verdagtes staar aanklagte van die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, en die valse voordoening as ’n polisiebeampte in die gesig.
*Die blouligbende het sinoniem geword met die N12 en N4 in die eMalahleni omgewing en het motoriste gereeld op die twee nasionale paaie geroof.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
