Eldoné se raaiselagtige toestand vererger by die dag en sy het dringend hulp nodig
Daar word gepoog om dringend R25 000 in te samel vir ’n tiener om die regte diagnose vir haar onverklaarbare floutes te kry.
Die Bodenstein-familie is in ‘n stryd teen tyd gewikkel om hul 15-jarige dogter by ‘n neuroloog te kry vir bloedtoetse om antwoorde op haar kondisie te kry.
Aan die begin van die jaar het Eldoné Bodenstein begin flou word.
Omdat sy allergies is vir UV-strale is daar aanvanklik gedink dat dit die oorsaak van die floutes was.
Maar dit het net erger geword en dokters het haar behandel vir ’n ystertekort.
“Die floutes het net meer en meer geword en sy het wakker geword met die regterkant van haar liggaam wat vir twee tot drie ure heeltemal verlam was,” het haar ma, Elmarie Bodenstein, vertel.
“Die floutes het vererger en Eldoné het vir tot vier ure aaneen epilepties-agtige konvulsies gekry. Tydens die episodes tree sy soos ’n kleuter op en gryp na enige iets om haar. Dit is baie gevaarlik omdat sy haarself ernstig kan beseer as niemand naby haar is nie,” het Bodenstein gesê.
Eldoné het ’n EEG-skandering ondergaan wat breinaktiwiteit meet.
Dié skandering het skoon teruggekom.
Die volgende stap was ’n MRI en met dié skandering is daar ook geen fout by Eldoné gevind nie.
Die tiener is weer deur ’n neuroloog gesien en daar word nou bloedtoetse aangevra.
Daar is ook voorgestel dat Eldoné ’n psigiater gaan sien om te kyk of enige traumatiese ervaring die floutes kan meebring.
Eldoné is tans op ’n 30 dae medikasieproeftydperk wat deur die neuroloog voorgeskryf is.
Die bloedtoetse moet egter gedoen word voor die proeftydperk verstryk en dit is hier waar die Bodenstein-familie hulp nodig het.
Die familie moet R25 000 insamel om die neuroloog se opvolgbesoek, bloedtoetse, die psigiater se besoek en vervoerkostes te dek.
Enige persoon wat meer wil weet oor Eldoné se kondisie of die gesin finansieel wil ondersteun, kan hulle kontak by 062 662 3113
“As daar enigiemand is wat deur ’n soortgelyke stryd gaan en net wil hande vat en gesels, is hulle ook welkom om my te kontak,” het Bodenstein afgesluit.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za