Bekende Ga-Nala sakeman sterf na stryd met diabetes
Whitey Borchardt was ’n groot gees in rugby-geledere.
’n Reuse boom het in Ga-Nala geval.
Die bekende sakeman en voormalige klubrugbyspeler, Whitey Borchardt is vanoggend oorlede na ’n lang stryd met sy bloedsuikervlakke.
Hy was ’n diabeet-lyer en het moedig baklei nadat sy been in Desember afgesit is.
Sy vrou Ann het voltyds na hom omgesien.

In Januarie het Borchardt se oud-rugbyspanmaats by hom gaan kuier en lekker saamgebraai en stories gedeel.

Die Borchardt-egpaar het hul 50ste huweliksherdenking in Julie gevier.

Borchardt se seun, Carl, het dié op Facebook geplaas: “Pa, ek weet nie hoe om totsiens te sê vir iemand wat so baie vir my beteken het nie. Dit maak my hart so seer om te weet dat ek nooit weer Pa se stem sal hoor of Pa se glimlag sal sien nie. Dankie dat Pa my Pa was. Dankie vir die herinneringe wat ons gedeel het en vir die lesse wat Pa my geleer het. Ek sal Pa se Liefde elke dag saam my vat waar ookal ek gaan. Ek is so lief vir Pa. Tot ons mekaar weer sien… Rus in vrede my yster.”
Whitey laat vir Ann, sy seuns Carl Borchardt en Neels Borchardt en dogter Louise Lee en kleinkinders agter.
