Wiele-diewe slaan toe in Adelastraat
Die buurtwag maak reg vir die feesseisoen en vra inwoners om deel te word.
Inwoners van Adelastraat het vroeër die week wakker geword met ’n onaangename verrassing toe al vier bande van een van hul voertuie gesteel is.
Jerry Groenewald het vertel die bande was nog 01:45 op 3 November op die bakkie.
“Toe ek vanoggend uitstap, was al vier die bande weg en het my bakkie op bakstene gestaan. Dit nogal op my eie boustene,” het Groenewald vertel.
Sy het vertel dat haar palissade hoog is en sy nie kan glo die swernote is oor die palissade nie.
“Ons het honde, maar hulle slaap in ons huis omdat honde nou gereeld vergiftig word.”
Groenewald het gesê hulle bly al sewe jaar in die huis en dit is die eerste keer dat daar by hulle iets gesteel is.
Tertius de Lange, die voorsitter van die buurtwag, het gereageer op die toenemende misdaad, veral met die naderende feesseisoen.
Hy het inwoners genooi om deel van die buurtwag te word en saam te werk om ’n oplossing te vind.
Inwoners word versoek om die buurtwag se WhatsApp-groep fyn dop te hou.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
