Local news

Boer verloor R400 000 se bale in brand

Boere het die naweek groot verliese gely terwyl hulle onverpoos teen verwoestende brande geveg het.

Brande het die afgelope naweek ’n spoor van verwoesting gelaat, met boere wat tot laat Sondag nog teen die vlamme geveg het.

Joleen du Plessis van Kaalbasfontein het gesê die brande is deur ’n fris wind aangejaag, wat boere genoop het om inderhaas saam te span om die vlamme te bestry.

“Ons het skaars ná kerk by die huis gestop om ander klere aan te trek toe ons moes uitstorm om vure te gaan slaan,” het sy vertel. “As die wind die vlamme eers vat, hardloop die vuur. Op ’n tydstip was die vlamme hoër as ’n huis se dak.”

Volgens haar het verskeie boere in die omgewing bale en weiding in die brande verloor.

“My broer het sy vingerpunte verbrand. Dit is baie traumaties.”

Jumbo van der Merwe (80) het na raming R400 000 se skade gely toe die vlamme sy bale verswelg het.

LEES MEER: Carpe Diem kuier en klets

“Ek het 1 800 bale verloor. Gelukkig het ek nog ’n paar spaarbale wat my beeste net-net deur die winter sal dra,” het Van der Merwe gesê.

Hy het gesê boere voel so magteloos as die vuurtonge alles in hulle pad verwoes.

“Sodra jy een vuur onder beheer het, breek daar ’n ander een uit. Dit gebeur elke jaar,” het hy gesê. “My vrou het Sondag op die balkon gestaan en gesien hoe die volgende vuur in die middel van my plaas begin brand. Gelukkig kon ons dit betyds onder beheer bring.”

Van der Merwe meen die brande word opsetlik aangesteek.

Piet Wassenaar, voorsitter van die Witbank Brandbeskermingsvereniging, het gesê groot brande het Saterdag op die Zaaihoekpad en by Verena gewoed.

“Ons het Saterdag begin vure slaan en eers Sondag klaargemaak,” het hy gesê.

Dit was vir hom ’n riem onder die hart dat mense van sewe omliggende areas kom help het.

Wassenaar het bygevoeg dat ’n algehele verbod op oop vure vanaf 1 Augustus ingestel word.

“Of dit nou voorbrande of die verbranding van ashope is – tot met die eerste reën gaan ons die verbod streng toepas.”

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button