Bod slaan toe op omgee en liefde by Immergroen
Die veiling het R7 000 vir SAVF Immergroen ingebring wat gaan help met die daaglikse bedryfskostes.
Die afslaershamer het broodnodige fondse vir die SAVF Immergroen Ouetehuis ingebring toe die bod op liefde en omgee toegeslaan is.
Dié liefdadigheidsveiling op 29 Julie was vol deernis en liefde vir die goue oues en bieërs het nie geskroom om die hande diep in die sak te steek vir ’n goeie doel nie.
Van snuisterye en meubels tot bottels wyn en rare whiskeys het onder die hamer gekom.
Die afslaer, Elvin Els van Travelling Auctioneers, se kwinkslae het die uitgesoekte gaste laat lê soos hulle lag.
Sy span het die lekkerste sop, broodjies, vetkoek en melkkos gereed gehad, want om ’n oog oor die bodstate te hou, kan ’n mens behoorlik honger maak.
Een van die gaste, Annemarie van Heerden, Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsnetwerk- en verhoudingsbestuurder, sê die aand was vir haar ’n hoogtepunt.
“Ek is stomgeslaan oor die mense se mooi harte. Hierdie aand was een van hoop, omgee en liefde.”
@witbanknews An auction in aid of Immergroen Old Age Home was a huge success #witbanknews #auction #auctioneer #charity #elderly ♬ original sound – Witbank News
Immergroen se bestuurder, Bernice du Plessis, het gesê haar hart loop oor en sy het haar dank uitgespreek teenoor Els en die personeel.
“Danksy die gemeenskap en Travelling Auctioneers se ondersteuning kan ons nou ’n verskil maak in die alledaagse bedryfskostes van die ouetehuis.”
Els het gesê die ouetehuis lê hom na aan die hart en die projek is die begin van baie groter dinge wat die afslaers beplan om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Die veiling het R7 000 vir die ouetehuis ingesamel.
Sien foto’s hier:



























Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
