Local news

Hier het die botsing gebeur waarin Brandon en Stephan beseer is

Brandon Joubert is steeds onder verdowing en Stephan Greyling word vanaand geopereer.

Die glasstukkies op die teeroppervlak is die stille getuienis van die ernstige ongeluk waarin Brandon Joubert en Stephan Greyling oor die naweek beseer is.
Die seuns het waarskynlik nie by die stopstraat gestop nie, omdat die stopteken stukkend gery is en langs die pad lê.


Witbank Nuus het die botsingstoneel gister besoek en gesien hoe voertuie en vragmotors oor die kruising jaag sonder om te stop, met die stopstraat wat ’n entjie verder lê.

LEES MEER 2 jong seuns in die hospitaal na ernstige botsing


Brandon se ouma, Rina Burger, sê die 19-jarige seun is nog onder verdowing.


“Ons weet nog steeds nie wat die omvang van die skade is nie. Die dokters het aangedui dat hulle hom stadig uit sedasie gaan haal en dat dit selfs ’n dag of twee kan vat voor hy by sy volle bewussyn is.”

Stephan (16) word môre geopereer vir die frakture aan sy gesig.
Die twee seuns was op pad om te gaan visvang toe die botsing op 1 Augustus skuins na 15:00 gebeur het.


“Ons het daar verbygery en dit was ’n verskriklike hartseer gesig. Ek hoop uit my hart dat die seuns ten volle sal herstel,” het Sonja Roux gesê. Burger het vir gebede gevra. “Bid asseblief vir die dokters, bid asseblief vir Brandon en Stephan en ook hul families.”


Brandon is ’n oudleerling van Hoërskool Generaal Hertzog en Stephan is ’n Graad 10-leerling aan die Hoër Tegniese Skool.


HTS se skoolhoof, Paul Liddle, sê daar moet ’n gemeenskapsprojek van stapel gestuur word om alle stoptekens te vervang wat weg is en alle stopstrate wat nie meer sigbaar is nie, oor te verf.


“Ons gebede is met die twee seuns en hul families,” het Liddle gesê.

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button