Opinion

My hart bloei

Daar is twee families in die stad wat die afgelope naweek soveel hartseer beleef het

Die spreekwoord lui, “waar die hart van vol is, loop die mond van oor”.

My hart is die week stukkend, die warm-klop-vir-mense hart bloei oor ’n jong en ou lewe wat so onverwags geneem is.

Dit is Dinsdagoggend en die koerant se spertyd klop aan die deur.

Ek het altyd al vroeër ’n idee wat uit my ink moet vloei.

Dié week was dit egter moeilik, want my kop soek antwoorde. ‘Hoekom Here?’

Het ons nie almal al dié spesifieke twee woorde uitgeskree nie? Ek verstaan nie hoekom die 33-jarige Nantes de Lange dood is in ’n fratsongeluk nie.

My verstand weier om te probeer indink hoe iemand die weerlose 86-jarige Tannie Johanna Rossouw so wreed kon vermoor.

Die reën se sagte ritmiese geklots op die venster in my kantoor laat my dink aan trane.

Daar is twee families in die stad wat die afgelope naweek soveel hartseer beleef het.

Ek weet dat God boekhou van elke traan.

Ek kon nie anders as om geraak te word deur Nantes se ma se hartseer nie.

Sy het op en af langs die rivier geloop en hom geroep.

Terwyl ons sit en wag dat die son sy kop oor die kranse uitsteek, het almal diep binne geweet hy is dood, tog was daar ’n sprankie hoop.

Miskien was hy net besig om almal ’n poets te bak.

Toe die polisiehond in die water spring, het die finaliteit almal soos ’n vuishou getref.

Die dood was nou werklikheid.

Sodra die man wat Tannie Johanna vermoor het gevang word, begin die lang traumatiese regspad vir haar familie.

Hulle gaan in die hof moet sit en luister hoe sy die steekhoue probeer afweer het.

My hart gaan uit na haar familie.

Die dood is net ’n strepie tussen twee datums.

Wat maak ons met daardie strepie wat tussen die 16 syfers lê?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button