Vir wie maak jy broodjies?
Partykeer maak ons broodjies vir iemand wat ons nie eers ken nie.

Ek was ’n hele sewe dae op verlof en het alles opgevang wat ek moes by die huis. Van tuinwerk tot koekies bak en verf saam met een van my mees talentvolste vriendinne en laatnag gesels met almal.
Dit was my nig daar van Somerset-Oos af wat weer die ratte in hierdie masjinerie van woorde ‘ge-kickstart’ het.
My niggie het my vertel van die voorval met haar wederhelfte, André, en die broodjies en omdat dit voedsel vir my siel was, deel ek dit graag.
“André vra my om vir hom vier broodjies te maak vir werk. Ek noem vir hom dat dit halfdag is vandag en hy vat nooit kossies saam werk toe nie. Ek het aangeneem hy het vergeet dis Saterdag. Ek maak toe ’n lekker hoender en mayonnaise broodjie met kaas en sit ’n bietjie Italiaanse kruie op. Hy vra toe ek moet dit in foelie toedraai. Ek maak maar toe so en so in die groet vra ek hom vir wie is die broodjies? Hy sê toe dis vir iemand op straat wat nie sy voete kan vind nie.”
Dis ’n oulike storie nê? Maar dis waar die voedsel vir die siel inkom.
Heather vra haarself toe, as sy geweet het vir wie sy die broodjies maak, sou sy net jam opgesit het?
Ek het weer en weer oor die geselsie getob.
Die Engelsman is gek oor varkvleis en hoender. Die pad na sy maag toe loop hand-aan-hand met ’n hoender en mayonnaise- of varkvleis en mostert broodjie.
As ek in dieselfde situasie was, wonder ek ook of ek net jam sou opsit of moeite sou doen met die broodjies.
Die slotsom is kort en kragtig. Al is dit net met ’n broodjie, God toets jou op die plekke waar jy dit die minste sou verwag.
Van nou af sal ek elke broodjie wat ek pak met liefde toedraai, want ons weet nooit vir wie daai broodjie bedoel is nie.
Deel jou nuuswenke met ons via:
- Telefoon: 013 656 2490
- WhatsApp: 060 866 8682
- Epos: wtbnews@mweb.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:
Instagram
Twitter
Witbank News toep
Facebook page
Witbank News Breaking
