My ink kan nie die hartseer en angs vasvang terwyl daar op nommer 10 gewag word nie
Woorde kan nie die geweldgolf beskryf nie. Name het iewers in die golf hul identiteit verloor.

Vanaand is my gedagtes stom en my ink wil net nie vloei nie.
Woorde ontbreek om hierdie intense hartseer en angs te beskryf.
Nommer een, nommer twee, nommer drie, nommer vier, nommer vyf, nommer ses, nommer sewe, nommer agt, nommer nege …
Iewers tussen die seer wat hulle ervaar het, het hulle hul name verloor.
Skielik is die oorlog op die agtergrond.
Die jongste oor die Madlanga-kommissie sal ons later opvang. Nou praat ons van die vroue wie se lyke een na die ander gevind word.
Elke keer as die nuusflitse opkom, hou ons asem op. Wanneer word nommer 10 gekry?
Agter daardie nommers is ouers.
My mammahart is bekommerd. Nie net oor my eie kuiken en my kleinkuiken nie, maar oor elke liewe vrou in ons land.
Waar het ons ons vryheid verloor?
Behalwe vir die wreedheid in die Kempton Park-omgewing het die boosheid ook sy kloue in eMalahleni geslaan.
Ons kan nie eers meer gaan draf nie. Ons kan nie in die aand na ’n vriendin toe ry en terug nie. Ons kan nie eers in ’n e-taxi ry nie.
Ons skryf oor soveel verkragtings en meer onlangs, ’n vrou wat bitter seergekry het toe sy seksueel met ’n gebreekte bottel aangerand is.
Ja, lees weer.
Hier in die Steenkoolstad het gesiglose monsters ’n vrou gruwelik met ’n gebreekte bottel geskend.
Ons skryf daaroor en die storie word deel van jou.
Elke woord wat jy tik terwyl die trane tussen die sinne opdam, bring jou nader aan die slagoffer.
Dit vat jou aan jou siel, maak van jou ’n kluisenaar – dit steel jou!
Vanaand het die Engelsman nie veel te sê nie. Selfs die ‘eish’ in sy whiskey is stil – amper eerbiedig stil.
Hy het grootgeword in ’n ander wêreld – ’n wêreld waar mans nog die kardeur vir ’n vrou oopmaak, waar hulle geleer het om vroue te respekteer.
Ons het stilgeraak, elkeen met sy eie gedagtes. Ons huiwer om die televisie aan te sit.
Wie is nommer 10?
*Hierdie is ’n opiniestuk en verteenwoordig die skrywer se eie mening, nie dié van Witbank Nuus nie.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
