
Ek het na die leë bladsy voor my gestaar. Ek het geen idee gehad waaroor ek hierdie week gaan skryf nie. Skielik het die nuus gekom dat Highveld Steel ’n gedeelte van hul aanleg gaan aansit.
Vanuit nêrens het daar woorde, sinne en paragrawe gekom wat nie eers ’n aardbewing of orkaan of selfs die storms in die Wes Kaap kon stop nie.
In ’n warboel van bruisende gedagtes en dankie-sê stiltes het ek besef God se plan is perfek. Sy tyd is die perfekte tyd.
Toe die ou dame begin grom stukke staal uitspoeg het daar ’n klompie manne met trane in hul oë gestaan.
Hulle was deel van die groep mense wat in 2015 afgelê is toe Highveld se deure gesluit het.
Dit was ’n treurige dag toe 1 7253 werkers moes teruggaan huis toe en vir hul families sê hulle hoef nie môre te gaan werk nie.
Maande lank het Solidariteit Helpende Hand kospakkies uitgedeel, berading gedoen en moed ingepraat.
Min het daardie werkers geweet dat die ou aanleg weer sal staal produseer.
Die doemprofete was dit eens dat die ou staalaanleg in stukke verkoop moet word om skulde te delg. Ander het gehoop en gebid vir ’n wonderwerk van iewers af.
Die hitte wat die ou dame vrygelaat het, elke keer as sy ’n stuk staal op haar vervoerbande uitspoeg het die trane op die manne se wange drooggemaak.
Haar gloeiende oonde het my vir ’n oomblik tot stilstand gebring en my laat dink aan die goue strale van ’n sonsopkoms.
’n Nuwe dag het vir Highveld aangebreek.
Skielik is daar weer laggende stemme hoorbaar tussen die ou dame se gesteun en gekreun.
Die aanleg gaan nou volgens ’n nuwe sakeplan bestuur word. Dit gaan ook bekendstaan as die Highveld-nywerheidspark. Dit gaan die nuwe tuiste wees vir talle ondernemings wat reeds hul intrek op die perseel geneem het.
Gebede het nie ongesiens verby God gegaan nie. Hy het groter planne met Highveld, met hierdie stad en sy mense.
Vir die ou staalreus is dit nie die begin van ’n boek nie. Sy het net omgeblaai en ’n nuwe hoofstuk begin. Haar eerste sinnetjies lees, ‘hierdie verhaal is een van geloof en gebed.’
