
Ek het my verlede week so bloedig vererg vir ’n nat-agter-die-ore-seuntjie wat teen my uitgevaar het omdat ek gevra het hoekom hy op ’n sosiale media groep is wat dwelms bevorder.
Dit het aan die lig gekom dat die jongklomp dink hulle is baie slim en daar is ’n sosiale media geselsgroepie gestig waarop bloedjies inligting oor dwelms onder mekaar uitdeel. Die meneertjie het dadelik aanvallend uitgevaar teenoor my en my selfs met die polisie gedreig. Ek het ’n kleintjie dood aan mannetjies wat dink hulle weet alles.
Dit is ironies hoe ons op ons agtervoete spring as iemand dit durf waag om ons bloedjies aan te vat. En ek glo nie die mamma is baie gelukkig met my direkte manier hoe ek haar seuntjie hanteer het nie.
Mamma ek het vir jou ’n boodskap – jou bloedjie is besig met verkeerde dinge. Sy selfoonnommer is op die lys van kinders wat in die grootmenswêreld met vuur speel. Dwelms is nie ’n grap nie. Dit is ’n gesiglose monster wat ons kinders steel. Dwelms gee nie om oor jou finansiële status nie, dit gee ’n flenter om hoe oud is jy of watter ras of geslag jy is nie. Dwelms steel ons kinders se menswees.
Haantjie, vir jou het ek ook ’n boodskap – jy weet nie waarin jy jou laat nie. Jy besef nie hoe seer jy jou mamma gaan maak nie. Jy gaan nie jou mamma se trane afvee wat sy in die vroeë oggendure in haar kussing probeer smoor nie. Jy gaan jou mamma na ’n punt toe dryf waar sy nie kan onderskei of sy jou haat of so verskriklik liefhet nie. Jy kan nie haar stukkende oë regmaak met ’n ‘Ek is sorry nie’. Daardie letsel sit dieper as sielsdiep.
Ons as ouers is so bekommerd en beskermend oor ons bloedjies dat ons vergeet om ouers te wees. Ons is geprogrammeer om ons kinders die voordeel van die twyfel te gee. Ons staar ons blind teen die feit dat kinders uiters manipulerend kan wees.
Ons probeer so hard om sielkundig korrek te wees. Ons gryp na boeke, praat met opvoedkundige kenners alles net om die perfekte ouer te wees. Ons het vergeet van die basiese reëls van respek en dissipline.
“Ja,” seg die Engelsman terwyl hy weereens na my tirade luister, “Buig die boompie terwyl hy nog jonk is en vorm die kind se karakter vroegtydig. Daar is niks fout met ’n goeie loesing op sy bas wanneer hy dit nodig het nie.”
Onvoorwaardelike liefde, aandag, dissipline en respek, dit is die kort en die lank van die ouer en kind verhoudin
