
“Van sweepklap weet ek,” seg die Engelsman hier langs my waar ons in die donker op ’n bankie op die stoep sit.
Ons sit hier omdat ons alweer sonder krag is. Die maan en die sterre skyn helder en dit skep net die regte atmosfeer, as ons net jonger was…. Maar vanaand het die mislikepaliteit my bloeddruk weer tot in die rooi gedruk. Al is dit koelerig is die lig wat die maan en die sterre verskaf beter as die donker huis, koue stoof en dooie televisie.
Die Engelsman neem nog ‘n slukkie uit sy glas en brei verder uit. “Kyk, toe die Voortrekkers uit die Kolonie uitgetrek het was hulle nie gepla deur ‘n petrolprys nie. Hulle het die sweep geklap en die osse moes laat waai.”
Toe dink ek so by my selwers, dit is nie net die voortrekkers wat die sweep geklap het en die osse wat moes ‘perform’ het nie. Deesdae is daar nog mense wat die sweep klap en nog mense wat moet ‘perform’. Kyk maar na die Guptas. Hulle het ons president gekaap en as hulle nou die sweep klap moet die arme man spring en ‘perform’. Dan is daar ons Russiese vriend Vladimir Putin. Dit is mos hy wat die kernkragstasies aan onse president verkoop het. Blykbaar het hy Jacob klaar betaal en as hy nou die sweep klap moet Jacob die kernkragstasies bou.
Maar die Suid-Afrikaanse publiek is mos baie dwarstrekkerig en wil nie kernkragstasies hê nie. Gaan Jacob nou die sweepklappe op sy lyf voel?
’n Ander sweepklapper is Cash Paymaster Services (CPS) dit is nou die firma wat onwettiglik die kontrak gekry het, wat hulle jaarliks miljoene rande in die sak bring, om SASSA se maandelikse uitbetalings aan die miljoene behoeftiges uit te betaal. Blykbaar het CPS Minister Bathabile Dlamini reeds vergoed vir daardie gunsie. Nou het die kontrak egter deur die mat geval en sy sal ten spyte van die sweepklappe nie verder ‘perform’ nie. Gaan sy ook daardie sweepklappe aan haar lyf voel.
Dan is daar Lynne Brown. Ook sy word deur die Guptas se sweepklap beheer. Blyk dat sy Eksdom aan hulle sou verkoop, maar dat daar toe ‘n stok voor die transaksie gesteek is. Nou kan sy dalk sukkel om Eksdom aan die Guptas te lewer. Sy moet ook seker maar haar lyf reghou vir die sweepklap.
Hier in Emmawillielênie klap die gemeenskap die sweep. Wanneer die burgemeester net dink sy gaan krag sny na gemeenskap wat nie betaal nie, kry hulle al die ‘tyres’ bymekaar en steek die aan die brand. So ook is die hoof substasie Vrydagaand geplunder. Eksdom kan maar die sweep klap Emmawillielênie het nie geld om hulle te betaal nie.
Ek lig my glas en sê vir die Engelsman: “Tjorts op volgende jaar.”
