
Week na week is ek besig om die munisipale rekeninge gemors uit te sorteer.
Lesers kom klop mismoedig by die koerant aan omdat hulle by die mislikepaliteit van bakboord na stuurboord gestuur word.
Daar is inwoners met voorafbetaalde elektrisiteit wat skielik vir kraggebruik moet betaal. Niemand weet waar daardie lesings gekry word nie. Sommige leë erwe word aangeslaan vir water en kraggebruik, weer weet nugter alleen waar daardie lesings verkry word.
Om eerlik te wees, maak ek nie kop of stert van die rekeninge uit nie, en ek glo as munisipale amptenaars ook eerlik wil wees sal hulle toegee dat hulle self nie weet wat daar aangaan nie. Nou word hul onbevoegdheid toegesmeer oor die hedendaagse verskoning – ‘Sorry it is the system’. Net so min as wat Jan van Riebeeck verantwoordelik is vir die chaos wat tans in ons land heers, so min is die nuwe stelsel verantwoordelik vir die rekeninge gemors in Emmawillielênie.
Met die kug die Engelsman, met sy knertsie en ‘eish’ wat rinkel in die glas, het hy altoos iets te sê.
Hy seg met die dat Zuma gesê het skoolopleiding en universiteitsstudies moet gratis wees, het almal opgespring en gesê daar is nie genoeg skole en universiteite nie en ook nie geld om nog te bou nie, want Zuma en sy vrinne, die Guptas, het die land bankkrot gesteel. As dit waar is en hulle word vasgevat oor die stelery dan gaan Saxonworld en nSkandalig (Nkandla) mos vir baie lank leeg staan.
Die Engelsman vat ’n teugie en gaan voort, “nSkandalig kan mos as ’n universiteitkampus aangewend word. Al die geriewe is beskikbaar. Daar is beeste, skape, varke en hoenders ingeval studente landbou wil studeer as hulle boere wil word. Daar is ’n amfiteater vir diegene wat drama wil gaan studeer. Daar is selfs ’n swembad waarin swemmers kan oefen indien hulle beplan om aan die volgende Olimpiese Spele te gaan deelneem. Daar is ook voldoende woonplek vir vele studente.”
En waar Zuma ookal is, as regeringsgas in die tronk of ’n Gupta gas in Dubai, kan hy dink aan sy nalatenskap aan ons.
Waaraan sal daardie student dié era eendag uitken, ’n korrupte regerende party, ’n ekonomie wat tot rommelstatus afgegradeer is, ’n land in chaos en ’ universiteit genaamd nSkandalig.
