
Partykeer vat dit ’n buitestander om ’n oplossing raak te sien. En net partykeer is die oplossing so voor die handligging dat jy jou eie gat kan skop omdat jy dit nie vroeër raakgesien het nie.
Tydens ’n vinnige middagete raak ek aan die gesels met ’n slim syferkop van ’n bekende plaaslike besigheid. Ons gesels oor die prys van kos, inflasie, petrolpryse en onafwendbaar eindig ons by Emmawillielênie se skuld aan Eskom.
Terwyl ek na die man sit en luister besef ek skielik ek moet hom aan die mislikepaliteit se finansiële slimkop voorstel. Ek is doodseker dat as hulle saam sit en gesels met ’n soetetjie in die hand oplossings vir die astronomiese Eskom skuld gevind sal word.
My gedagtegang is skielik ’n warboel van besigheidskaartjies want ek wil almal met mekaar ‘op-pair’. Sou ons ’n paar padingenieurs om een tafel kan kry sal ons in ’n oogwink die OR Tambopad probleem kan oplos.
’n Paar motorwerktuigkundiges kan dalk koppe bymekaarsit en die munisipale vloot ’n vinnige ‘make-over’ gee. Miskien kan ’n beplanner of twee die mislikepaliteit help om meer deeglike beplanning rondom vullisverwydering tydtafels te doen en sal almal se vullis op tyd opgetel word.
Dink net wat kan ons doen as ons waterkundiges bymekaar kan kry.
Nog beter wat as ons al die entiteite in een vertrek kan kry om die misdaadprobleem uit te sorteer. Tans voer hulle so ’n oorlog teen hul alma mater wat ook net skelms wil uithou dat hulle nie genoeg tyd het om die skelms vas te vat nie.
Dit laat my dink aan die fliek Bruce Almighty. ’n Man wat alewig oor God gekla het, het skielik al die mag. Die les wat hy moet leer is dat dit moeilik is om die wêreld te beheer.
In Emalahleni is dit presies wat gebeur. Almal in die sektore het ’n rol om te vervul om die stad misdaad vry te hou en tog is daar die wat glo dat hulle meer mag as ander het. As julle tog net wil besef julle is nie polisie nie. Julle is daar om die polisie te komplimenteer deur hul oë en ore te wees, hulle by te staan in die onbegonne taak om misdaad te bekamp.
Hier is ’n voorstel; hou op om op mekaar onder die vergrootglas te plaas en te analiseer. Staan eerder saam en net soos die slimkop syferkoppe, padingenieurs, beplanners en waterkundiges is ek seker julle sal gou ’n oplossing vind om die booswigte aan die pen te laat ry.
