
Ek en die Engelsman sit in die, kan jy dit glo, helder verligte sitkamer, en televisie kyk, ek met ‘n soetetjie en hy met sy knertsie op ‘eish’ en gekoopte water.
Maar die televisie is nie op sport nie. Die Engelsman vind die politiek deesdae meer opwindend as ‘n Curriebeker-eindstryd waarin die Cheetahs speel.
Vir my is die politiek nie net opwindender as rugby nie, maar ook veel meer vermaakliker. In die verlede het jy nog staatsmanne en vroue gehad na wie jy kon opsien. Daar was politici soos Churchill en Thatcher van Engeland. Daar was Lincoln van Amerika en natuurlik ons eie Mandela. Dit was mense met integriteit wat net gedoen het wat goed was vir hulle land en mense.
Deesdae is die norm dat lande deur narre en skelms regeer word. Dink aan die gewese president Mugabe van Zimbabwe. Sy beleid van plase sonder vergoeding terug te neem was maar net ‘n eufenisme om homself skatryk te steel. Sonder die boere wat voedselsekerheid moes verseker het Zimbabwe van die kosmandjie van Afrika geduik tot waar dit vandag is, ‘n wettelose derderangse landjie.
Van narre is daar seker nie ‘n beter voorbeeld as Trump van Amerika nie. ‘n Muur tussen Amerika en Mexiko. Net so min as wat die rooi see die Israeliete kon keer sal ‘n muur verhoed dat Meksikaners Amerika onwettig insypel. Het dit ooit by hom opgekom dat die Meksikaners grawe het om tonnels onder die muur te grawe of dinamiet om mure weg te blaas.
Om skoolskietery, wat soos plaasmoorde in Suid-Afrika blykbaar ‘n nuwe sportsoort in Amerika is te voorkom, wil hy onderwysers bewapen. Bid jou dit aan, ‘n onnie met ‘n rollie aan sy heup voor ‘n klas. Trump is seker ‘n groot ‘cowboy’-aanhanger en wil Amerika seker na die wilde weste era terugneem.
Maar soos gewoonlik vat ons eie land die koek. Ons gewese president Jacob Zuma was nie net ‘n skelm of net ‘n nar nie. Nee, hy was sommer altwee ineen, ‘n skelm en ‘n nar, ‘two for the price of one’.
Hy en sy vriende die Guptas het ons staatskas leeggesteel. Hulle het regerings entiteite soos Eskom, SAID, Prasa en Transnet onder andere kaal gestroop en in ‘ n land met ‘n oorvloed van elektrisiteit wou hulle onbekostigbare kernkragstasies bou. Dit is ook nog ‘n gekonkel met Poetin en sal eersdaags hopelik oopgevlek word wanneer Poetin sy pond vleis eis.
Tussen die nuus deur koekeloer die Engelsman so nou en dan na die Winter Olimpiese Spele. Vir ontspanning volg hy ‘Curling’ terwyl hy wag vir die volgende sessie politieke aksie.
