BlogsOpinion

Dis met liefde gedoen

Tydens ’n kerkfunksie het ’n vrou spontaan gebuk en salfolie aan ’n vriendin se voete gevryf.

Soms speel iets voor jou af wat so spesiaal is dat dit jou denke vir dae lank oorheers. Saterdag het een van daardie onthou-oomblikke gebeur wat my laat besef het dat daar wel nog mooi in hierdie deurmekaar skrootwerf lewe van ons is.

Tydens ’n kerkfunksie het ’n vrou spontaan gebuk en salfolie aan ’n vriendin se voete gevryf. Rou, eerlike liefde het in haar oë weerkaats terwyl sy die paar voete saggies gevryf het.

Verblind deur die trane en emosies het ek skielik besef dit is wat Jesus vir sy dissipels gedoen het.

Die tafel vir die Paasmaal is gedek, almal was sekerlik in ’n ligte luim en het uitgesien na die heerlike Paasete. Jesus se oë was tien teen een gesluier, want Hy het geweet die sekondes tik af en wat met Hom gaan gebeur.

Ek kleur my verbeelding in en stel myself voor hoe die atmosfeer was in die bokamer waar die maaltyd gehou was. Die lug was sekerlik gevul met die reuk van ongesuurde brood, kruie en wyn, almal het deurmekaar gesels en gekibbel en gestry. Daar was moontlik ’n amper swanger opgewondenheid in die lug.

Die mense het toentertyd met sandale geloop en ek kan myself net voorstel hoe vuil hul voete was. Almal was sekerlik moeg na die lang dag en was dalkies nie lus om hul voete te was nie en die slawe was sekerlik al huis toe.

Jesus kon een van die dissipels gevra het om almal se voete te was, maar Hy het afgebuk, die kruik geneem en elkeen se voete self gewas. Nou het die luim in die bokamer sekerlik verander. Miskien was net die asemhaling van die dissipels en die klots van die water in die kruik hoorbaar.

Wat sou ek gedoen het as ek in daardie bokamer was? Ek weet nie. Ek kan myself nie voorstel wat deur die dissipels se gemoedere gegaan het nie.

Dalk dieselfde wat deur my gemoed gegaan het toe die vrou langs my haar vriendin se voete gesalf het. Ek kan nie die liefde beskryf wat op daardie oomblik in die vrou se oë weerspieël het nie.

Is dit nie tog al wat Jesus van ons vra nie, onvoorwaardelike liefde vir ons medemens en vir Hom nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button