
Wie van ons sou nie graag die horlosie wou terugdraai na die goeie ou tyd nie? In die koerantwêreld ruk ek dadelik die handbriek op en skree, nee!
Ek wonder hoe op aarde het hulle die koerant weekliks op straat gekry sonder selfone, rekenaars en kameras wat vir hulself dink. Dit klink byna onmoontlik wanneer jy besef net ’n paar jaar terug was daar net landlyne.
Ons het verlede jaar die eer gehad om WITBANK NUUS se 100ste bestaansjaar te vier. Deel van die spesiale uitgawe was ure en ure se deurgaan van ou koerante. Hierdie redaksie het darem al te lekker tong-in-die-kies menings gehad oor die tipe berigte, die foto’s en die uitleg van die ou legendariese uitgawes.
In die ‘ou dae’ was fotografie ’n kuns op sy eie. Toe moes jy ‘n kamera koop met film wat ontwikkel moes word. Filmontwikkeling was ‘n vaardigheid op sy eie en slegs spesialis fotograwe het dit in toegeruste donkerkamers gedoen.
Selfs berigte aanmekaarflans was moeilik. Die moes op ’n ‘floppy-disk’ gebêre word en na Middelburg geneem word waar dit letterlik gespoeg en geplak was. Ten spyte van dit was daar elke week ’n koerant op straat.
Selfone en digitale kameras is die moderne fotograaf se regterhand. Tegnologie het ons lewens geskommel en skielik kan ons nie daarsonder nie.
Tegnologie en vars idees is die rede hoekom WITBANK NUUS die week ’n hele nuwe blaadjie omslaan. Ons wil in die voorste linie van tegnologie bly en pas ons stories, foto’s en die algemene uitleg van die koerant so aan. Ons groei saam met tegnologie en nooi ons lesers uit om weekliks saam met ons te gesels, idees uit te ruil, te lag oor die snaaksighede in ons wondermooi stad en te huil wanneer dit nodig is.
Ons is net die druk van ’n knoppie weg.
En vir my Engelsman, ons hoofstukkie bly nog dieselfde. Met sy ‘eish’ en ’n knertsie in die hand gaan hy nog baie opinies oor die lewe saam met jou die leser deel.