
Die hoë munisipale rekeninge het inwoners vandeesmaand weer heeltemal onkant gevang.
Inwoners moes raap en skraap om genoeg geld bymekaar te kry om die rekeninge te vereffen anders word hulle krag summier gesny.
Ek het sommer self ’n hele klomp van ons lesers se rekeninge na die munisipaliteit se rekeninge-afdeling geneem. By die mislikepaliteit het ek ’n verbouereerde tannie raakgeloop. Sy was een van die munisipale rekeninge slagoffers.
Terwyl ons wag om in te gaan het sy hartseer vertel dat sy nie meer weet wat om te doen nie. Sy en die oom kook net Sondae, dus gebruik hulle hul stoof vir een ete per week. Die res van die week eet hulle iets vinnig soos tuna broodjies. Hulle sit hul geiser elke dag net vir ’n uur aan. Ligte word minimaal gebruik en daar is geen verwarmers nie. Tog kry die tannie ’n rekening wat drie maal hoër as normaal is.
Voor ek ’n kans kon kry om verder met die tannie te kon gesels het iemand anders my aandag opgeëis.
Vir hierdie oumensies is die nuwe finansiële sisteem volksvreemd en hulle word geïntimideer deur die syfers waarvan hulle geen kop of stert kan uitmaak nie.
Nadat die tannie gehelp is, het ek besef watter onreg die munisipaliteit aan sy inwoners doen.
Die tannie moes alleen na die onderdorp toe ry om haar rekening uit te sorteer. Sy moes in ’n lang ry staan en haar beurt geduldig afwag soos die honderde inwoners voor haar in die ry. Nog steeds was sy nie seker of hul rekening reggemaak is nie. Nou gaan sy elke aand wag om te kyk of hulle krag gesny gaan word.
Sies vir jou Emalahleni Stadsraad! Deur julle toedoen en onvermoë om ’n eenvoudige finansiële sisteem te laat werk het ons duisende inwoners wat weereens met verkeerde balanse sit. Ons het duisende ou ooms en tannies wat letterlik alles doen om hul krag te bespaar net om van een ry na ’n ander gestuur te word om hul rekeninge uit te sorteer.
Dan kla die munisipaliteit dat meer as die helfte van die inwoners nie hul rekeninge betaal nie. Vee eers op jul eie voorstoep, skuif julle meubels reg en dan sê julle inwoners betaal nie hul rekeninge nie.
Tannie ek wens ek het geweet wat jou naam is en waar jy bly, ek wil graag jou rekening van ons kant af probeer uitsorteer.
