BlogsOpinion

Dis als Jan se skuld

Op sosiale media vra ’n hartsvriendin of dit die moeite werd sal wees om wakker te bly om die rugbytoets te kyk.

Op sosiale media vra ’n hartsvriendin of dit die moeite werd sal wees om wakker te bly om die rugbytoets te kyk.

Die Engelsman het hom voor die boksie ingenestel en ook dié wedstryd gekyk. Skielik spring hy op en bulder “Dis alles Jan se skuld!”
Hier waar ek teenoor hom met ’n soetetjie en storieboek sit, kyk ek verbaas op. Die rugby was so vervelig, ek het my storieboek begin lees.
So verdiep was ek in die boek dat ek nie agtergekom het dat die toetswedstryd tot ’n einde gekom het nie.

Ek hoef nie te gevra het wie het gewen nie. En die arme Hollander Jan van Riebeeck word geblameer.

En daar is die Engelsman uit die wegspringblokke, “Toe Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het moes daar definitief rugby afrigters onder sy bemanning gewees het en dit is hulle wat verantwoordelik is vir die huidige swak spel van ons Bok en jong Bokkiespanne. Terwyl ander nasionale spanne nuwe tegnieke en moderne afrigting beoefen, speel ons spanne nog steeds rugby uit die oudedoos. Ons afrigters het glad nie saam met die tyd beweeg nie. As die voorspelers nie stampkarrugby uitstal nie, slaan hulle balle in die agterlyn aan.”

Hy teug nog ’n keer aan sy knertsie whiskey, water en ‘eish’.

“En agter die skrum staan die skrumskakel en terwyl hy na die bal kyk en kyk en kyk waai sy hand hier agter hom asof hy ’n slegte reukie wil wegwaai. As hy dan uiteindelik besluit om die bal op te tel, kyk hy hoe doelloos hy daardie bal kan skop. As hy die bal na die losskakel toe aangee, wat selde gebeur, skrik dié so groot dat hy die bal aanslaan. Sou hy nie die bal aanslaan nie, kyk hy hoe doelloos hy die bal kan skop. As die losskakel nie die bal aanslaan of doelloos wegskop nie, laat loop hy die bal na sy binnesenter. Die senter probeer dan om deur ‘n muur van drie of meer opponente te hardloop. Hy slaag nie daarin nie en ’n losskrum word dan gevorm. Die skrumskakel wat nog steeds ’n stankie probeer wegwaai, begin dan weer dieselfde proses van vooraf.”

Die tirade gaan voort en die Engelsman beskryf die Springbokke as planloos, rigtingloos, taktiekloos en afrigtingloos.
Arme Jan draai seker in sy graf om, arme vriendin het kosbare slaap verloor en arme Engelsman…hy is net moedeloos.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button