BlogsOpinion

In ‘plain’ Afrikaans

Afrikaans is ʼn jong taal, ʼn lewende taal en digterlik gesproke, die mooiste, soetste taal ooit

Afrikaans is ʼn jong taal, ʼn lewende taal en digterlik gesproke, die mooiste, soetste taal ooit. Tog is daar sedert die ontstaan van Afrikaans verskeie pogings aangewend en word daar tot hede nog pogings aangewend om ons geliefde taal te onderdruk. Maar die finale aanslag teen Afrikaans gaan uit eie geledere kom. Ons Afrikaanssprekendes gaan met die Engelfrikaans wat ons deesdae praat, Afrikaans die doodsteek toedien.

Ons sangers sing deesdae nie Afrikaanse liedjies nie. Nee, deesdae sing hulle ‘songs’ saam met ʼn ‘band’ wat ʼn lekker ‘beat’ het en nog ʼn ‘hit’ ook is. Dít voor ʼn ‘audience’ wat ‘awesome’ is.

Ons sportmanne is die ander aandadiges. Spesifiek ons rugbymanne. As die bokke die ‘coach’ se ‘gameplan’ volg sal die ‘tries’ kom. Die ‘flyhalf’ of die ‘scrummy’ moet net ‘highkick’ en wonder. Wonder wat? Wonder of die opponente se ‘leftwing’ of ‘rightwing’ die daaropvolgende ‘try’ gaan ‘score’. Die ‘vories’ moet net die opponente se skrum ‘pressurise’ en die ‘game’ is in die sakkie.

Dan is daar ons ambagsmanne. Dis diegene wat met ‘shifting spanners’, ‘crowbars’, ‘grinders’, ‘cutting disks’, ‘switches’, ‘plugs’ en ‘jigsaws’ werk. Dit is egter die ‘mechanic’ by die ‘garage’ wat die kersie op die koek is.

Dit is die meneer wat die kar se ‘bonnet’ oplig, so ʼn lang meerwaardige fluit gee wat jou moet laat besef dat jy jou hand diep in jou sak sal moet druk. En as hy eers begin praat van ‘oil’ en ‘filter changes’, ‘clutch’, ‘tappit’ en ‘timing settings’, ‘gear oil change’, ‘plugs’ en ‘timing belts’, dan moet jy maar weet, jy sal jou hand dieper in ʼn sak, wat jy miskien nie eers het nie, moet steek.

Ek’s nog besig om te dink wat ek vir aandete gaan maak toe die Engelsman die kombuis binnekom met ʼn inkopiesak. Ek was gou ‘shopping centre’ toe sê hy terwyl hy die inkopiesak vir my gee. Ek het vir jou ʼn boks ‘chocolates’ en sommer ‘chicken wings’ vir aandete gekoop.

Ek sê dit nie, maar dink so by my selwers, “Engelsman, ek gaan dadelik vir jou ʼn water, whiskey en ‘eish’ skink want jy is ʼn ‘awesome hubby’.”

En vir die mislikepaliteit sê ek in ‘plain’ Afrikaans …. ‘sort’ ons rekeninge uit!

R.I.P Afrikaans.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button