BlogsOpinion

Glimlag vir die kamera

Dis vreemd om in OR Tamboweg en Mandelastraat te ry en almal hou skielik by die spoedgrens

Dis vreemd om in OR Tamboweg en Mandelastraat te ry en almal hou skielik by die spoedgrens.

Die spoedkameras is nou die toppunt van menige gesprekke. Dit is hier om te bly en dit werk, almal, insluitende die taxi’s, ry nou skielik net 60km/h. Kyk bietjie hoe reageer ander motoriste as hulle die grys boksie langs die pad gewaar. Daar word opgewonde vinger gewys en gesigte getrek.

Ek en die Engelsman het ’n speletjie begin, ‘spot-the-box’.

Dié grys boksies dien ook ’n ander doel, dit voorkom omkopery.

Dit laat my dink aan die keer toe ek en my kuiken in die sop beland het oor ’n versteekte stopstraatjie. Ek het net so ‘getouch’ en ‘go’ toe staan die dame in haar bruin uniform voor my. Sy het haar vingertjie gewaai so asof daar ’n slegte reukie in die lug was, en daar was. Riool het langs die pad afgesypel.

In alle geval, my kuiken het langs my gesit en smul aan lekker biltong met so ’n lip-lekker geelvetjie aan. Die dame in die bruin uniform het dié stukkies biltong behoorlik uit die pakkie uitgekyk. My kuiken het die pakkie stywer vasgeklem en so ewe droog in hogere Ingels gesê, “My mother ignored the traffic sign, not me.”

Ek het nog so met die oë gewys dat hy haar ’n stukkie moet aanbied, maar die pakkie het hy net stywer vasgeklem. Ek is toe daar weg met ’n stewige boete en ’n kuiken in wie se mond botter en biltong nie eers kon smelt nie.

Terwyl ek en die Engelsman ‘spot-the-box’ in Mandelastraat speel, seg hy droog, “Koop volgende keer twee sakkies biltong, dan maak jy seker jy stop by elke stopstraat. Bring die tweede sakkie biltong veilig huis toe, dit sal lekker saam met ’n Whiskey en ‘eish’ afgaan.”

Ek hoop regtig dat die munisipaliteit die gelde wat hulle uit die boetes maak nie net aan Eskom oorbetaal nie, maar ook stopstrate vervang en verf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button