BlogsOpinion

Spaarkamer toe

Vir die volgende winterseisoen se koue nagte het die Engelsman twee opsies vir jong enkellopende mans.

Vir die volgende winterseisoen se koue nagte het die Engelsman twee opsies vir jong enkellopende mans.

Die eerste is om te trou. Die voordeel van hierdie opsie is dat jy in die koue nagte lekker styf en snoesig warm teen vroulief kan nestel. Die nadeel is egter dat jy van meet af saam met haar 7de Laan moet kyk. Gereeld sal sy sê dat sy ’n nuwe rokkie vir die werkspartytjie moet koop of dat daar ’n uitverkoping by die skoenwinkel is.

Dan het jy boonop onder ’n wanindruk verkeer toe sy gesê het dat sy kan kook. Sy het water bedoel en nie kos nie. Maar daar is mos ’n KFC sommer reg langs die skoenwinkel. Sy sal sommer by die skoenwinkel inloer terwyl jy ‘take-aways’ by KFC kry. Hou ingedagte dat KFC nie uitverkopings hou nie.

Een van haar mooi eienskappe is haar liefde vir blomme en terwyl sy soos ’n sersant-majoor bevele uitskree, moet jy spit, beddings maak en onkruid uitroei. Praat nie eers van die grasperk wat jy in stand moet hou nie.

Opsie twee, geen nadele nie net voordele. Met ’n warmwaterbottel of twee, drie komberse of vier en ’n knertsie agter die blad, kan jy die koue nagte trotseer. In plaas van 7de Laan, kan jy rustig na Bikini Beach lê en kyk. Soggens eet nie jy nie ontbyt nie, want jy weet daardie jong sekretaressie van jou sal weer ’n bord boerekos, wat haar ma gemaak het, vir jou op jou lessenaar kom sit.

Geld wat jy op die skoenuitverkoping sal bespaar, spandeer jy nou op tuindienste wat jou blombeddings en grasperk in stand sal hou.
Met die geld wat jy op KFC se ‘take-aways’ bespaar, kan jy met die regte aankope saans in plaas van een knertsie teen die koue, sommer twee geniet.

Met twee warmwaterbottels, drie komberse, twee knertsies agter die blad en die kassie op Bikini Beach, kan ’n koue wintersaand sommer heel aangenaam wees.

Die Engelsman seg altoos al kos ’n botteltjie R5 000 is dit nog ’n ‘bargain’ en las hy sommer by, “opsie een het baie nadele en opsie twee baie voordele, maar opsie een bly nog steeds ’n ‘bargain’ ”.

Hy beter dit sê, want ek was reeds besig om vir hom bed te maak in die spaarkamer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button