
Binne 24-uur kan jou lewe handomkeer verander.
Op ’n winderige Sondagoggend het Ben Coetzee 30km met sy fiets gery. Later die middag het hy in ’n sinkgat, skaars 300m van sy huis af, getrap. Hy het erge brandwonde opgedoen en vroeër die week is sy tone geamputeer.
Binne ’n bestek van ’n paar uur het Ben se hele lewe verander.
Twee jong seuns se ma is in hegtenis geneem omdat sy daarvan verdink word dat sy haar man doodgesteek het. Die jong seuns se lewens is binne oomblikke vir altyd verander.
Daar is soveel dinge wat binne 24-uur kan verander.
Ons huishouding het ook binne 24-uur verander. Een van die kuikens het ons weer ouma en oupa gemaak. Wat die situasie so uniek maak is dat niemand, nie eers die mamma geweet het sy is swanger nie. Dit gebeur nie net op realiteitsprogramme op DSTV nie, ook hier in ons eie ou Steenkoolstad.
Vrydagmiddag het die Engelsman nog die naweek se planne met my gedeel, maar nodeloos om te sê, niks daarvan het gebeur nie.
Mamma, pappa, oupa en ouma is nog besig om die koms van dié wonderwerkie te verwerk. Waar hy weggekruip het in mamma se maag, weet net hy.
Almal wil weet hoe op aarde dit gebeur het, ons weet self nie. Ons weet net Jesus het besluit om die engeltjie vir ons te gee om ons lewens te verryk
En dis hier waar ek nou ’n stille dankie-sê-gebed opskiet.
Want binne 24-uur is ons kleinding geseën met alles; ’n waentjie, karstoeltjie, klere, doeke. Noem dit op, die klein vegtertjie het dit.
