
Hierdie week wat ek rose uitdeel aan die personeel van Emalahleni Private Hospital, Legacy Emergency Specialists en ook Solidariteit Helpende Hand Witbank.
In ’n breukdeel van ’n sekonde het hulle besluite gemaak wat die lewe van ’n bejaarde onherroeplik verander het.
Hierdie groep mense het weereens bewys daar is goed in die wêreld.
Hulle het opgetree na ’n anonieme oproep oor ’n bejaarde wat verwaarloos was.
Maar wat gebeur wanneer die rolle omgeruil word en kinders skielik na hul ouers moet kyk? Hoe aanvaar jy dat jou ouers oud word?
Ek sit op nasionale braaidag by my ouers en die intense liefde wat ek vir hulle het is iets wat ek nie kan beskryf nie.
Hierdie twee mense is my anker. Hulle wysheid is die goue drade wat ons hele familie deurweef en die lieflikste lappieskombers van persoonlikhede en uniek-wees vasstik. Dis lekker om huis toe te kan gaan en in die veilige kamers van die fort my dramas, leed en liefhê met hulle te kan deel.
Dis lekker om te sien hoe hulle mekaar terg, nog steeds hande vashou en die goue strale van die lewe geniet.
Dan is daar die anderkant van die werklikheid, ons bejaardes word dikwels vergeet of doelbewus agterweë gelaat om iemand anders se probleem te word.
Skielik word hulle gekonfronteer met broosheid, afhanklikheid, vrees dat hulle kinders hulle gaan vergeet. Hulle moet afskeid neem van die huis waarin hulle dekades se drome geleef het, herinneringe gemaak het, ons grootgemaak het.
Terwyl die son ’n laaste keer oor die kragstasie in Ga-Nala knipoog, ry ek terug na my eie huis toe met ’n gebed in my hart,
“Jesus hou asseblief U hand van beskerming oor my ouers, omvou hulle met U genade en U liefde. Jesus dankie dat U vir my die grootste geskenk gegee het, twee rotse wat die fondasies van ons familie sterk hou.”.
