
“Nee wragtig wat te erg is, is darem te erg,” kom dit skielik van die Engelsman vanwaar hy oorkant my in die sitkamer besig is om koerant te lees.
Ek kyk hom verbaas aan want vir hom om die amperse vloekwoord te gebruik, is ongewoon. Iets moes hom lelik ontstel het, maar enige een wat deesdae ’n koerant lees, raak ontsteld en hulle bloeddruk ref tot in die rooi.
“Kyk net na hierdie pryse, ons sal dringend moet maniere vind om te bespaar” seg hy terwyl hy die koerant vir my aangee.
Hy staan op om sy glas te hervul met whiskey, water en ‘eish’ terwyl ek na die advertensies waarna hy verwys in die koerant kyk.
“Skokkend,” is al wat ek kan sê toe ek na die pryse van die geadverteerde goedere kyk want deesdae se pryse gee jou die rede om die regte vloekwoorde te gebruik.
Waar is die dae wonder ek. Die dae toe my Oupa 9 pond vir ’n slagbees betaal het. Die dae toe ek as kind met 1c twee ‘nickerballs’, daai swartes of twee lekker taai Wilson toffies kon koop.
Toe ek nog 5c vir ‘n roomys ‘cone’ betaal het. Die dae toe my ouers nog R10 per paar vir ons skoolskoene betaal het.
Die dae toe die Engelsman in my lewe gekom het. Hy het my Kriel 313, die fliek toe geneem, sjokolade, roomys, koeldrank en ‘popcorn’ gekoop en die hele aand se bederf en dit het hom net R10 gekos.
Die dae toe ek vir die Engelsman en ons twee kuikens kon voer op R300 se kruideniersware en dit was vleis ingesluit.
Ek is so verdiep in my terugvlug na daardie dae dat ek nie opgemerk het dat die Engelsman die sitkamer verlaat het en hom iewers met iets besig gaan hou het nie.
Toe hy weer die sitkamer binnekom is daar ’n glimlag op sy gesig maar hy swyg soos die graf en skink vir hom ’n whiskey, water en eish.
Dit is eers later toe ek die toilet besoek dat ek die rede vir sy glimlag sien. Agter die toiletdeur is ’n kennisgewing aangebring wat lees.
“As gevolg van hemelhoë pryse vra ons dat gebruikers van hierdie vertrek asseblief albei kante van die toiletpapier gebruik.”
