
WhatsApp kan jou in groot moeilikheid laat beland.
Niemand sal Margharet van Wyk se ‘most embarrassing’ oomblik vergeet toe sy ’n foto van haar geslagsdeel op die verkeerde groep aangestuur het nie.
Die hokkie-tannies op wie se WhatsApp groep dit beland het, het uiteraard nie stilgebly nie en kort daarna het die foto op alles sosiale media platforms gepryk.
Dan is daar ons liewe voormalige minister van Binnelandse Sake, wat sy sake ook nie baie ‘uhm – privaat’ gehou het nie.
Minister Malusi Gigaba se video was kwansuis net vir vroulief bedoel, maar oor die 44 000 mense het glo die video al gesien wat ook op sosiale media platforms geplaas is.
Ons mees onlangse stoute kabouter is Jay du Plessis wat ’n foto aan ’n ander vrou gestuur het waar hy net ’n onderbroek aan het.
Dit het ook hier in eMalahleni gebeur. ’n Mamma het ’n privaat gesprek gehoor, die verkeerde afleidings gemaak en skielik het die hele sosiale netwerk gegons dat daar Ebola in Emalahleni is.
Ouers het skielik elke simptoom in hul kinders raakgesien en die skool moes bontstaan om die vure te blus.
Ouers het die koerant oorval met navrae oor die dodelike virus en selfs nadat ons bevestig het die virus is nie in eMalahleni nie en so ook met ouers gedeel is, is daar vir die koerant gesê hulle moet seker maak van hul feite.
So voordat jy kommentaar lewer, iets plaas of deel dink twee keer. ’n Gesprek tussen twee mense is makliker om te beheer as dit aangesig tot aangesig gedoen word, op sosiale media trek mense maklik maskers aan dis wanneer iets gewoonlik heeltemal uit verband geruk word.
