
Die jaar is op sy rug. Gelukkig is al my kersgeskenke klaar gekoop en toegedraai en ek hoef nie die winkels te gaan aandurf nie.
Ek bly eerder by die huis met ’n Gin & Tonic in die hand. Dis glo die nuutste ‘trend’, dus word die soetetjie vir eers opsy geskuif.
Die afgelope jaar was in ‘fast-forward-mode’. Ek wonder soms of alles vinniger verbygaan omdat ek ouer is, of gaan die dae net vinniger verby?
In alle geval – kom saam met my op ’n terugblik van die jaar.
Die nuwe jaar het skaars afgeskop toe ’n bekende motorfietsryer op die draai van die dood verongeluk het. Dit was die soveelste ongeluk en AfriForum het besluit om die draai te beveilig deur waarskuwingsborde op te rig en katogies op die draai te sit. Manne, julle is ysters, dankie vir wat julle gedoen het.
Dan was daar die skokberig van die Shabani kinders. Die stad het gehuil toe die kinders dood gevind is nadat hulle deur ’n Sangoma ontvoer was. Deur die jaar is verskeie projekte aangepak vir bewusmaking oor Albinisme. Dit sal die kinders nie terugbring nie, maar ons het iets uit die tragedie geleer.
As dit nie Clewer is nie, dan brand Jackaroopark, Vosman of Hlalanikahle. Die munisipaliteit kry die oefening oor dienslewering net nie reg nie en boonop skuld hulle Eskom biljoene. Ons wag in spanning vir die finansiële reddingsplan wat ons uit die geldelike knyp moet red.
Deur die jaar het verskeie huisgesinne ook al hul besittings in brande verloor en die munisipaliteit het ’n hele paar rand verloor op transformators wat uitgebrand het.
Ons het ’n entjie saam met Ben Coetzee gestap wat ’n entjie van sy huis af in ’n brandende sinkgat geval het. Van sy tone is geamputeer, maar met Ben gaan dit goed.
Yvette Burger is 15 jaar tronk toe gestuur vir die moord op haar ma en sussie.
Die spoedkameras het almal in die rooi ‘gerev’. Motoriste het maar teensinnig hul boetes gaan betaal en party is nog rooi onder die kraag en sê die kameras in onwettig. Hoe dit ook al sy, dis lekker om te sien dat motoriste hulle nou by die spoedgrens hou.
Hofsake is maar altyd interessant en dit was heerlik om te sit en kyk hoe advokaat Zahir Omar Glencore Myn in die hooggeregshof aanvat oor die mynbedrywighede op die dorpie se voor- en agterstoep. Omar is ’n paar keer gemaan om nie so melodramaties op te tree nie, maar dit was lekker om te sien hoe iemand so passievol is oor iets waarin hy glo.
Die hoofopskif ‘Vergete’ het die stad geruk. Ouma Heleen Dinkelmann is erg verwaarloos in ’n kamer in ’n huis waar sy gehuur het, gevind. Helpende Hand Solidariteit het dadelik ingespring en haar in ’n hospitaal laat opneem. Ouma Dinkelmann is later oorlede. ’n Studiefonds in haar naam is by Helpende Hand begin wat ’n jongmens die kans gee om te gaan studeer. Solidariteit Helpende Hand Witbank-Tak, julle is ’n unieke groep mense wat so ’n groot verskil in eMalahleni maak. Ek deel vir julle elkeen ’n roos uit om dankie te sê vir wat julle doen in die gemeenskap.
Ons het nie altyd net slegte nuus gedeel nie. Ons het ons lesers ook vertel van seldsame bome in ons steenkoolstad, die mooistes en die titels wat hulle verower het, op die sportveld het ons elke wen en verloor gedeel.
Hierdie jaar was volgeprop met interessante gebeure.
As redaksie van WITBANK NUUS is dit vir ons ’n eer om julle lief en leed deel van die stad se geskiedenis te verewig.
Geniet hierdie feesseisoen, as julle reis, ry veilig.
