
Die tyd stap vir my net te vinnig aan.
Dit is asof Vader Tyd by ‘bootcamp’ aangesluit het en nou met ’n huppel in sy stappie onder die sekondes uithardloop.
Dié week is vir my baie spesiaal.
My Engelsman het sy 50ste verjaarsdag gevier en as ek so na ons ou foto’s kyk besef ek hoe Vader Tyd gehardloop het.
Ek het die Engelsman eendag by ’n rugbywedstryd ontmoet toe my pa nog rugby in Kriel afgerig het.
Hy het van ’n troue afgekom en een whiskeytjie té veel ingehad.
Die whiskeytjie het hom baie braaf gemaak en hy wou met alle mag die veld op hardloop om die skepskopper te help skop.
Nodeloos om te sê my pa het toe sommer ’n hekel in die outjie gekry en hom summier van die veld afgejaag.
Toe begin hy nou vlerksleep en my pa was boos.
Eerstens het die ding Engels gepraat en hy het ’n oorring gedra.
Die eerste koppie koffie by my ouerhuis was ’n totale flop.
Toe my pa sien wie die gas was het hy hom uitgejaag en ek hoor nog duidelik sy woorde “F%*#& jou w*##^%”.
Die Engelsman het op daardie stadium drie Afrikaanse woorde geken; ma, pa en motorhuis.
Ek kan nie my pa se gesig anders as ‘priceless’ beskryf toe die Engelsman hom in Engels bedank vir die kompliment nie.
Die tyd het aangestap en ons is later getroud.
Soos alle ander getroude paartjies is daar goeie en slegte tye.
Ons ‘ups’ en ‘downs’ het ons karakters uitgebeitel en vandag besef ek, ek het met my beste vriend getroud.
En die Engelsman en my pa. Wel, die twee is vandag onafskeidbaar.
In ons familie is daar nie skoonseuns nie, my pa seg altyd hy het twee dogters en drie seuns.
Op 50 is my Engelsman nog steeds die een wat my hart aan die galop laat gaan en my bene in jellie verander.
Vader Tyd het nog ’n paar rondtes om te voltooi alvorens hy in dié pylvlak van die resies ingaan. Vir die Engelsman seën ek met ’n oorvloed liefde, wysheid en ’n Goddelike beskerming.
Vandag is ek so bly hy wou die skepskopper op daardie wintermiddag in Kriel help om die bal oor te skop.
