BlogsOpinion

Vertrou op God se doel

Sondag sit ek in die kerk en die trane loop terwyl ek steeds met Hom baklei want ek wil antwoorde hê.

Die groot ‘K’ woord het die afgelope paar weke vir my realiteit geword.

Mense loop nie met ’n reuse banier wat uitskree ‘Ek het kanker’ nie. As jy mooi kyk sal jy hulle heel moontlik dadelik tussen die ander uitken.

Dis die man of vrou wie se kaalkop tussen die skare uitstaan, dis die man of vrou wie se blou arms vertel van die naaldeprikke en chemo. Dis hulle wat dapper glimlag en sê ‘Ek is ok’.

Kanker het ook een van my vriende op die skouer getik.

Ek sê altyd hy is die mees deurmekaarste sielkundige wat ek ken.

Abie is die man wat my warboel gedagtes kan orden en herrangskik.

Hy is die een saam met wie jy oor die lewe kan filosofeer en stry tot die son opkom.

Die deurmekaar-sielkundige het beenmurgkanker.

Hy skop af met ses maande chemoterapie, daarna beenmurgoorplanting.

Teen Januarie 2020 behoort hy te weet of hy die wedloop voltooi en die kanker gewen het.

Kanker klop ook aan ons eie voordeur.

My rots moet binnekort onkoloog toe gaan want iets is net nie reg nie.

Alles binne en om my het tot stilstand gekom toe my ma sê hul huisdokter verwys my pa onkoloog toe.

Skielik begin jy bid, intens bid. My binneste skree uit ‘hoekom God?’

Ek is al gekonfyt met die sêding ‘God’s will, God’s way, God’s time’.

Ek is net menslik en my woordewisseling en baklei met God bereik vinnig ’n klimaks.

Sondag sit ek in die kerk en die trane loop terwyl ek steeds met Hom baklei want ek wil antwoorde hê.

Toe is die boodskap daar.

Pastoor Louis Maré het die diens waargeneem en sy woorde eggo elke dag in my gedagtes “Trust God’s purpose.”

Ek weet nie wat die doel is met Abie nie.

Ek weet ook nie wat die doel is dat die woord kanker nou in hoofletters in ons eie lewens uitgespel word nie.

Ek weet nie of kanker jou lewe ‘steel’ en of dit jou ’n doel gee om voluit te leef nie.

Abie oorweeg om ’n blog te begin en hy eindig sy brief aan my af met die nagedagtenis “Tot dan, sorry … maar moenie slaap verloor nie … en dit is nog nie Bye nie.”

Vir my rots … ons weet nog nie, maar ek weet ‘I have to trust God’s purpose’.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button