BlogsOpinion

My gebed en Dora se gebed

Ditjies en datjies, vrouwees, ma-wees, sommer net woorde wat gevloei het sonder om in die lug te hang

Vroeër die week het ek met Dora, die bekende gesig by die verkeerslig in Modelpark, gesit en gesels.

Ditjies en datjies, vrouwees, ma-wees, sommer net woorde wat gevloei het sonder om in die lug te hang.

Dora se skouerknoppe staan pertinent langs haar skouers uit en ek kan sien sy het baie gewig verloor.

Vir die wat nie weet nie, sy was so twee maande terug deur ’n minibus gestamp op die OR Tambo en Amsterdamstraat-kruising.

Dora se fletsblou oë het ’n manier om deur jou te kyk. Dis amper asof sy jou siel wil deurboor op soek na antwoorde. Sy het gesê sy wil nie op straat bedel nie.

Ek glo diep in my hart dat Dora dalk moontlik ’n middelklas mamma kon gewees het.

Sy kon heel moontlik met ’n voorskoot om haar middel vasgebind die heerlikste soetkoekies gebak het, middae om die kombuistafel haar seuntjie gehelp het met huiswerk.

Die mamma wat elke rugby- en netbalwedstryd bygewoon het en Sondae hoender, groente, rys, aartappels en asynpoeding opgedis het.

Dora kon ek en jy gewees het.

Die gesels vat toe ’n ander rigting en sy sê sy het niks in die lewe behalwe haar man en seuntjie nie.

Sy bid dat sy net genoeg geld kan verdien om vir haar man ’n ‘cheap’ pakkie ‘cigarettes’ te koop en vir haar seuntjie 2-Minute Noodles.

Dora se gebed is anders as myne. Ek bid vir lewe en wonderwerke. Sy bid vir R10 vir ’n ‘cheap’ pakkie ‘cigarettes’.

Later skink die Engelsman vir my ’n soetetjie en vir hom sy gebruiklike drinkdingetjie met ‘eish’ en ons besin oor die lewe en sy draaie, die petrolprys wat nou weer gaan styg, ons kuikens, die Dora’s in die lewe en als en nog wat.

Dora was nog op die voorgrond van my gedagtes toe die Engelsman sê, “Elke gebed, hoe klein en gering ookal kom by God uit.

Of dit nou vir ’n pakkie ‘cigarettes’ is of vir ’n wonderwerk, by God is elke gebed belangrik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button