BlogsOpinion

Liewe tiener-Zita

My ‘timing’ was uitstekend.

Die ink vloei soos die Victoria Valle uit my pen uit.

Dis al 34-jaar na my tienerjare. Jare vasgevang in ’n lugkasteel in ’n wêreld waar net goed en mooi is.

Dit was ’n tyd van verbeeldingstogte, reise na verre plekke terwyl ek een boek na die ander verslind het.

Ek het op die lewe se rug gery, so hard geskaterlag dat selfs die kiewiete hul vlerkies om hul kuikens gegooi het om hulle te beskerm.

Daar was soveel drome en nog meer ideale.

Dit was tye voor digitale media en ek het Sondae-aande ‘PopShop getape’ op die ‘tape recorder’.

Jy moes net betyds ‘pause’ druk anders was Karl Kikillus se stem deur die eerste helfte van jou ‘recording’.

My ‘timing’ was uitstekend.

Maar ek dink Vader Tyd se timing is bietjie ‘ge-fast forward.’

Op my rype, wonderlike, ek-is-tevrede-met-myself ouderdom is my idee van ’n goeie tyd – die heeldag in my slaapklere voor die televisie, kitskos, middagslapies en as ek iets vergeet, kan ek dit agter die ouderdom-verskoning skans.

Maar Vader Tyd bring ook realiteit saam as deel van die bagasie.

Sommer so uit die bloute is ek gekonfronteer met die idee dat ons almal eendag moet doodgaan.

Toe kanker by my pa gediagnoseer is, is my hele lewe tot stilstand geruk. Ek wou net huis toe gaan en in my kinderjare-kamer gaan slaap en van alles vergeet.

Dit het ek ook gedoen.

Laat die aand het my ma koffie gemaak en ons het beskuit saam geëet.

Ons drie het verby die wysers op die horlosie gekyk en gesels oor alles.

Dit was ’n warboel van emosies, leeg-huil oomblikke en saggies-dankie-sê gesprekke tussen my en God.

Ek het dankie gesê vir engele wat God op my pad geplaas het. Ek het Hom bedank vir elke oomblik saam met my ouers, elke kosbare minuut waaruit ek nog soveel liefde kan put.

Die lysie met die engele in my lewe se name word by die dag langer.

Ek weet dat ek net ’n oomblik hoef stil te staan want God weet wat ek wil sê voordat ek dit nog uiter.

Partykeer is woorde nie nodig nie ……

Liefde middeljarige-Zita.

PS: Liewe tiener-Zita, jy mag maar huis toe gaan en in jou eie kamer gaan slaap as dinge te veel raak.

Dis ‘ok’ om op 50 nog ma- en pa-vas te wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button