BlogsOpinion

Ouma hou die koekblik vol

Een van haar vriendinne se wederhelftes is vroeër vanjaar dood en hy het die lekkerste blatjang, konfyt en souse gemaak waaraan jy kan dink.

My vingers het lank op die sleutels van die rekenaarbord stilgesit.

My gedagtes het nie opgedroog nie, inteendeel dis ’n mallemeule, bont vlooimark vol idees.

As ek al my gedagtes moet neerpen, sal dit rye en rye volumes volstaan.

Oor die naweek gesels ek en ’n hartsvriendin oor dinge wat ongesê en ‘ongeskryf’ gelaat word.

Een van haar vriendinne se wederhelftes is vroeër vanjaar dood en hy het die lekkerste blatjang, konfyt en souse gemaak waaraan jy kan dink.

Hy het egter nooit die kans gekry om sy resepte neer te skryf nie, want vir hom was dit natuurlik om te proe, by te voeg en binne ’n japtrap ’n sousie of twee op te dis.

Wie onthou nog ouma se koekblik, die bêreplek vir ouma se koekies, vakansiekoekies en dominee-kom-kuierkoekies.

Daai blik is al jare leeg, maar dit dra nog steeds herinneringe van gemmerkoekies, skurwejantjies, pampoenkoekies en Sondae middae se goudbruin hoender, ertappels en groente na kerk en Jan Ellis poeding.

Dit voer my terug na tafelgebed en die horlosie wat twaalfuur op die televisieskerm verskyn.

Ouma se resepte het plek gemaak vir Internet-koekies en etes.

Nie dat Internet-koekies ’n slegte ding is nie.

Die stap vir stap aanwysings maak van my ’n kok van formaat.

Nou kan ek skielik sop maak, ek weet hoe om my konveksie-oond te gebruik en wat die woord prut beteken.

Tog is daar ’n leemte.

As ek in my gedagtes rondkrap, onthou ek naweke waar ons, ons moederhen moes help deeg uitrol en koekies uitdruk.

Ek onthou hoe geduldig my pa boontjies gekerf het wat later trots op die rak gepryk het met ’n lintjie om die nek van die bottel.

Ek verlang na dié ingelegde kerrieboontjies, ek verlang na die reuke in die kombuis, ek verlang na melkkos en Hertzoggies.

Ek neem binnekort bietjie verlof, want ek wil al moederhen se resepte gaan uittoets en inlê.

Ek wil ook hê my kleinseun moet eendag sê, ek verlang na die reuke in my ouma se kombuis.

Ek gaan vir hom ook herinneringe gee van die koekblik wat spesiaal binne sy bereik geplaas word dat hy net op sy toontjies kan staan en die koekblik afhaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button