BlogsOpinion

Ons reis het ’n goddelike plan

Ons loop dikwels onverwagte hindernisse en uitdagings raak

Die vaal, bruin wintersdae eggo my gemoedstemming.

Daar het die afgelope paar weke so baie negatiewe dinge gebeur.

Kinders het verdrink in ’n dam, ’n egpaar is aangeval en die man so erg geslaan dat rekonstruksie op sy gesig gedoen moet word.

Rowers en polisie skiet opmekaar.

En dan is die spoedkameras hier om te bly.

En nog steeds is ons munisipale rekeninge in ’n gemors.

Dan kom daar ’n berig deur van ’n man wat dié naweek gaan probeer om ’n trok 300m ver te sleep.

Die man is in ’n rolstoel gekluister nadat hy in 2018 deur rowers in sy rug geskiet is.

Net soos vir dié man is die verloop van die lewe nooit soos wat ons gehoop of voorspel het nie.

Ons loop dikwels onverwagte hindernisse en uitdagings raak.

Wanneer ons die verskillende aspekte op ons lewensreis se roete teëkom, begin die reis van die lewe oopvou in die proses.

Die man se naam is Jonty Jacobs.

Hy het nie in ’n donker gat verval nie.

Inteendeel, hy gebruik sy ondervinding om ons te leer hoe om die lewe te waardeer.

Jonty se glimlag is aansteeklik, in sy oë brand ’n helder vlam as hy vertel van sy tweede kans op die lewe.

Dit laat my dink aan die beeldspraak van tapisserie wat gereeld gebruik word.

As jy net fokus op ’n klein deeltjie daarvan, lyk dit maar soos ’n gemors, verwarrend en onlogies.

Maar as jy terugtree, val alles in plek en die prent kom te voorskyn, ’n pragtige voltooide stuk.

Die Engelsman sit rustig en voeg nog ’n bietjie ‘eish’ by sy whiskey.

Hy het so ’n paar slukkies geneem en vat my hele gedagtegang in een sinnetjie saam, “Ons moet by die punt kom waar ons ontdek dat die lewe oor die reis gaan en nie oor die bestemming nie.”

Dit laat my weereens besef as ons net op die bestemming fokus, gaan ons vergeet om die reis te geniet.

Daar is verskillende aspekte van die lewe wat die reis van ons lewens word.

Jonty het my geïnspireer en weereens laat besef my reis en jou reis het ’n doel en die proses is nie sonder ’n Goddelike plan nie.

 
Back to top button