BlogsOpinion

Water is kosbaarder as goud

Die munisipaliteit het verlede week erken hulle kan nie vir ons genoeg water voorsien nie

“Kinders, moenie in die water mors nie, die oumense wil dit drink,” lui ʼn ou volksliedjie.

Daar het ons dit nou, ons water word beperk.

Kinders kan nie daarin speel nie, en oumense kan dit nie drink nie.

Daar is net nie genoeg vir almal nie.

Die munisipaliteit het verlede week erken hulle kan nie vir ons genoeg water voorsien nie.

Dus gaan ek en jy moet beurte maak om te stort.

Emmawillielênie is besig om te verkrummel onder al die stres.

My geliefde gesegde aan my vriendinne is “Jy kan nie ’n ander se koppie volmaak as jou eie leeg is nie.”

Emmawillielênie, jou koppie is leeg!

In ons pondokkie het ons reeds voorsiening begin maak.

As ons by die huis kom en daar is water en elektrisiteit, was ons gou ’n bondel wasgoed.

Ons kook ’n storm los en vries sommer vir die dae wat daar nie eers ’n ou druppeltjie uit die kraan uitkom nie.

Oral in die garage staan ons noodvoorraad plastiekbottels wat met water gevul is.

Solank die Engelsman noodvoorraad ‘eish’ het, is hy ‘gesort’.

Dit is juis so met ’n blokkie, ja net een want ons spaar nou water, ‘eish’ wat in sy glas rinkel dat hy maniere uitdink om water te spaar.

Hy deel graag die volgende met ons lesers, “Kyk dat krane en pype nie lek nie. As daar ’n badkamerkraan is wat aanhoudend drup en nie behoorlik kan toedraai nie, is dit nie net irriterend nie, maar ook ’n groot vermorsing van water. Bel jou loodgieter vriend en nooi hom vir ete en vra sommer om die kraan reg te maak.”

“Ma, hou op huil oor die vuil skottelgoed! Moenie skottelgoed onmiddellik was nie. Ja, dit beteken jy hoef nie jou koffiebeker dadelik te was nadat jy dit gebruik het nie. Wag eerder totdat jy meer vuil skottelgoed het voordat jy die wasbak vol water tap.”

Die Engelsman het wraggies ’n bottel met drinkwater in die yskas gesit.

Hy meen as die water koud is, gebruik jy minder ‘eish’ en jy laat die water nie uit die kraan stroom terwyl jy wag dat die koeler water uitkom nie.

Dit is wel klein dingetjies, maar as ons na die groter prentjie kyk, dan gaan die besef dat ons met ’n ernstige probleem sit, insink.

Die feit bly staan, water is meer werd as goud. Kom ek en jy begin deur die Engelsman se raad te volg.

Ek glo dié keer is hy in die kol, ‘eish-en-al’.

 
Back to top button