BlogsOpinion

Ek skryf ook memories

Sonder Jeremiah se dagboekinskrywings sou ons nooit presies geweet het hoe dinge toentertyd verloop het nie

Ek en die Engelsman het altyd ’n opwindende lewe.

Of moet ek sê hy maak die lewe opwindend en interessant.

Ons was verlede week so bietjie weg Oos-Kaap toe om sy voorvaders se geskiedenis te gaan opsoek.

En geskiedenis het ons geskiedenis gevind.

Die Engelsman is eintlik die nasaat van een van die mees geskiedkundige Britse Setlaars wat in 1820 voet aan wal gesit het.

Wat Jeremiah Goldswain so befaam gemaak het, was die feit dat hy noukeurig boekgehou het van gebeure wat hy elke dag beleef het.

So het hy drie oorloë beskryf en ook die alledaagse dinge waarmee hulle op die nuwe kontinent gesukkel het.

Sonder Jeremiah se dagboekinskrywings sou ons nooit presies geweet het hoe dinge toentertyd verloop het nie.

Die geselskap op pad terug van die pragtige Grahamstad af het my tot ander insigte gebring.

Ek wou nog voorstel dat ek graag ’n dagboek sou wou hou waarin my kuikens se kuikens eendag ’n unieke kykie in my lewe sou kry.

Die Engelsman is soos altyd slaggereed met sy antwoorde.

Sosiale media is mos ons dagboekinskrywings.

Inteendeel dink die Engelsman ons gee baie meer inligting.

Hoe laat ons opstaan, hoe ons eerste koppie koffie lyk, waar ons by die winkelsentrums ‘in-check’, wat ons eet, hoe ons voel, ons woede, wat ons gelukkig maak en hope foto’s.

Die Engelsman daag my toe uit om ’n stuk papier te vat en ’n paar woorde neer te skryf.

Ek moet sê my wind was bietjie uit my seile geneem en in die begin was my skrif maar roeserig, dit het na ’n rukkie darem beter gegaan, maar my hand het gou geprotesteer toe ek by die tweede paragraaf kom.

Dus in ’n neutedop is ek besig om te verleer om te skryf, maar gee vir my ’n sleutelbord en ek tower een sin na die ander vir jou op.

Dus my ou kuikens, ek hoop sosiale media is nog lank hier want al my memories moet julle maar eendag daarop gaan soek.

 
Back to top button