BlogsOpinion

Liefde is ’n werkwoord

Haar 11-maande-oue seuntjie het sy geborsvoed nadat sy die rotgif met jogurt gemeng en aan haar bors gesmeer het

Die lewe gooi partykeer sy ‘dice’ sό dat jy nie weet watter kant toe nie.

My week het afgeskop in die hooggeregshof in Middelburg waar ons in detail moes hoor hoe ’n 24-jarige ma haar vier kinders vermoor het.

Dit nadat sy haar kêrel saam met ’n ander vrou gevang het. Volgens haar het sy daar en dan besluit om ’n familiemoord te pleeg.

Sy het by ’n straatverkoper rotgif gekry en vir haar kinders broodjies gemaak met dit daarop gemeng met atjar.

Haar 11-maande-oue seuntjie het sy geborsvoed nadat sy die rotgif met jogurt gemeng en aan haar bors gesmeer het.

Al vier haar kinders is kort daarna dood.

Die vrou het emosieloos in die hof gesit, agter haar het ek gesit en huil en agter my het haar ma se hoorbare snikke deur die stilte gesny.

Die volgende dag het ek ’n onderhoud met ’n ma wie se seun wreed doodgemaak is.

Die ma het ook Maandag in die hof gesit.

Sy het die heeltyd na die vermeende moordenaars se hande gekyk en besef haar seun se bloed het deur hulle vingers gesypel.

Sy het vertel dat sy haarself moes terughou, want sy wou hulle skud en vra ‘hoekom?’.

Trane het oor haar wange gestroom en sy het hortend vertel dat ’n stukkie van haar hart elke keer agterbly as sy by sy graf was.

Al wat sy gevra het was ’n laaste 60 sekondes.

Op die moordtoneel het sy haar seun se lewelose liggaam vasgehou en wou nog net een keer in sy oë kyk en vir hom vertel hoe verskriklik baie lief sy hom het.

“Ek glo hy hoor my. Ek glo elke traan wat ek huil vang hy op en bêre dit vir eendag sodat ek genoeg trane gaan hê om te huil van geluk as ek hom in die hemel sien”.

Twee ma’s, twee verskillende hartsere, twee verskillende omstandighede.

Een het beplan om haar kinders te vermoor, die ander se hart breek in stukke as sy agter die mans sit wat haar seun vermoor het.

Nie een van ons weet wat môre gaan gebeur nie. Dus los ek julle met ʼn stukkie wysheid, “Liefde is ’n werkwoord.

Dis iets wat jy doen.

Liefde is iets wat geleef en nie gevoel word nie.

Gaan huis toe vanaand en gooi jou arms om jou kinders, vertel hulle hoe ontsettend baie jy hulle liefhet.”

Ek gaan nie terughou nie, ek gaan my kuikens tot oorlopens toe liefhê.

 
Back to top button