BlogsOpinion

Bring die horlosie terug

So wonder die Engelsman of dit regtig die moeite werd is om jare lange tradisies op te offer vir die kassie

’n Gekuier met vrinne of familie het deesdae oudmodies geword.

Dit word selfs as ’n lastigheid beskou as hulle kom kuier, want die gasheer, sy vrou én sy kinders wou juis vanaand se episode van hulle sepie op die kassie kyk.

Nou kan hulle maar net wonder of Diederik en Olivia regtig gaan skei en hoekom het Charmaine nooit vir Vanessa vertel haar mal sussie, Vivian, is eintlik Vanessa se biologiese ma nie.

Braaivleis is erger, jy kan nie net jou gaste so los om te gaan koekeloer hoeveel paaltjies die Proteas al weer verloor of hoeveel sesse het hul opponente teen die Protea boulers afgestaan nie.

Ja, die kassie is die oorsaak dat daar deesdae nie meer ordentlik gekuier of gebraai word nie.

So wonder die Engelsman of dit regtig die moeite werd is om jare lange tradisies op te offer vir die kassie.

As dit nie M-Net is nie, is dit kykNET wat kla oor hul dalende kykertal.

Dit is ’n dilemma wat hulle vir hulself geskep het, het die Engelsman geseg en verduidelik.

Hy praat nie eers van die swak kwaliteit programme wat hulle vir hul kykers opdis nie, die herhaling maak hom ook boos.

Daar is op vandag se rooster programme wat ons vyf jaar terug al gesien het.

Flieks met akteurs wat my oupa se helde was, word nou nog vertoon.

Ek stem saam met die Engelsman.

Wraggies deesdae is net die sport en nuus die moeite werd om te kyk.

Skielik helder die Engelsman se gesig op.

“Ek wonder,” seg hy “hoeveel gaan M-Net en kykNET my betaal vir ’n oplossing?”

Ek kyk met afwagting na hom terwyl hy die ‘eish’ saggies teen sy Whiskey glas laat rinkel.

“Al wat hulle moet doen is om die horlosie in die hoek van die kassie aan te bring. Ek kan hulle verseker dat meer mense na die tyd sal kyk as na die flieks van ’n dekade terug.”

En op daardie noot-vir-noot seg hy ‘Cheers!’.

 
Back to top button