BlogsOpinion

Ons gaan Kaap toe

Na ontbyt het pa teen ’n verminderde spoed natuurlik, die reis hervat

Toe, dit is jare gelede toe ons kinders nog klein was.

Ek was seker so nege, my sussie sewe en ons boetie so vyf jaar oud.

Ons was een vakansie af Kaap toe. Die dag voor ons die lang pad aangepak het, is die motor gediens en vol petrol gemaak.

Voordat ons gaan slaap het, is die bagasie gepak en ons was reisgereed.

Vroeg slaap want pa het gesê die een wat twee uur die volgende oggend nie in die kar is nie, bly.

Ons kon skaars ’n oog toemaak van opgewondenheid.

Die horlosie het nog nie eers 02:00 aangeraak nie, of ons was al gereed en in die kar.

Deur so vroeg te ry het pa beweer hy mis die Karoo-hitte en kon hy die petrolpedaal bietjie dieper trap, maar nog steeds onder die spoedgrens bly.

Toe die son sy kop vaak-vaak uitsteek het pa onder ’n koelteboom, waaronder ’n sementtafeltjie en stoeltjies gestaan het, ingetrek en ons het ’n vroeë ontbyt van hardgekookte eiers, frikkadelle en koue hoender, wat ma ingepak het geëet.

Na ontbyt het pa teen ’n verminderde spoed natuurlik, die reis hervat.

Die stadiger ryery was vir ons om die natuur en omgewing met die oog te geniet.

’n Verkeersbeampte, wat langs die pad op sy motorfiets gesit het, het vriendelik gewaai.

Ons het natuurlik uitgekyk vir die troepies wat daai tyd nog duimgegooi het as hulle naweekpas het.

Nou, so 40 jaar later.

Jy kan nie meer jou motor vol petrol maak en jou bagasie ’n dag voor die reis in die motor pak nie.

Die kans is te groot dat die petrol, bagasie of die kar met die hele toetie deur die nag gesteel gaan word.

Nou kan jy ook nie meer 02:00 in die oggend ry nie, want in die pad lê tallose slaggate wat net wag om toe te slaan.

Jy kan ook nie meer stilhou om ’n ete langs die pad te geniet nie, want die kanse dat jy gekaap gaan word is groot.

Verkeersbeamptes wat jou deesdae langs die pad kry sal met jou ’n geselsie aanknoop wat soos volg sal klink, “Meneer, jy het die spoedgrens oortree. Wil jy nou dadelik R1 000 betaal of wil jy eerder volgende week R5 000 in die hof betaal?”

En dit alles terwyl dit in jou agterkop bly, dat terwyl jy op vakansie is, jou huis boonop nog leeggesteel kan word.

Geniet die vakansie …….

 
Back to top button