BlogsOpinion

Die groen lig word gegee

Die Engelsman seg hulle is met selfone in die hand gebore, hul eerste selfie word sekondes na hul geboorte op sosiale media geplaas

Hierdie is een van die mees sensitiefste onderwerpe waaroor ek my ink nog moes smeer.

Hoe vertel jy vir ander ouers wat jou siening is oor die veranderinge aan die LO-kurrikulum sonder om gekruisig te word.

Ek het reeds ereklere vir ouerskap verdien en werk nou hard aan ’n sertifikaat vir ouma-skap.

Daarom kan ek oordeelkundig my siening gee en ek hoop ons lesers sien dié hele oefening in die konteks waarin ek dit sien.

Ongelukkig leef ons in ’n digitale era en ek weet kinders sien meer as wat ons as ouers selfs partykeer weet.

Ons bloeitjies het meer toegang tot inligting as ons.

Die Engelsman seg hulle is met selfone in die hand gebore, hul eerste selfie word sekondes na hul geboorte op sosiale media geplaas.

Ongelukkig is van ons volwassenes swak rolmodelle en dis juis by die huis waar die grondslag gelê moet word.

Wat leer ’n kind as sy ouers heeldag werk, by die huis kom en ure op hul selfone lê. Hulle kompeteer nou teen ’n selfoon vir aandag.

As ’n jong meisie is ek ’n boek, nou gee ek my ouderdom weg, ‘Wat tieners wil weet’ in die hand gestop en gesê as ek vrae het, moet ek kom vra.

My eie kuikentjies het dit makliker gehad en ons het openlik oor die veranderinge in hul liggame en seks gepraat.

Vandag nog is die kanale oop en kan ons ure gesels en debatteer oor relevante onderwerpe.

Maar, daar is ongelukkige ouerhuise waar kommunikasie nie ’n sterk punt is nie.

Daar is ook toenemende huishoudings waar die kind se rol verander het na ma- en pa-rolle toe in ‘child-headed-homes’.

As die regte informasie nie daar deurgegee word nie, hoe op aarde kan daardie kinders ingeligte besluite maak?

Ek het die handboeke onder oë gehad en daar was party hoofstukke wat my heeltemal laat sidder het.

En die ander? Wel dit is goed nagevors en word goed aangebied.

Leerders kan van graad vier af geleer word van gesinsgeweld en boelie-gedrag en hoe om dit te hanteer en om die regte mense te kontak om hulle te beskerm.

Daar behoort vir hul verduidelik te word hoe hul liggame werk op ’n wetenskaplike wyse, maar steeds op hul vlak.

Dié leerinhoud is gebaseer op ouderdom en emosionele ontwikkelingsvlak van ons bloeitjies.

Statutêre verkragting en tienerswangerskappe kom voor in die literatuur asook meer oor seksuele oordraagbare siektes om leerders die gevare te leer van vroeë seksuele verhoudings.

Wat my die meeste pla is nie die handboeke nie, maar die leerkragte wat die vak moet aanbied.

Word hulle opgelei? Is hulle emosioneel volwasse en sensitief om hierdie vak te kan aanbied of word die vak aan die onderwyser gegee wat ’n af periode het?

Ek stel voor ouers gaan terug skoolbanke toe en gaan vind meer uit oor die nuwe toevoeging.

Net as jy gewapen is met die regte inligting kan jy besluit of jy dit teenstaan of ten gunste is daarvan.

 
Back to top button