BlogsOpinion

Sonder suurstof is besluitneming maar moeilik

Die lug in hierdie omgewing is so besoedeld dat daar wragtig nie nog plek vir suurstof is nie

Soos ons almal weet, en die wat nie weet nie, kan dit gerus gaan “Google” bestaan lug onder andere uit suurstof, koolstofdioksied, stikstof, edelgas en waterdamp.

Die belangrikste van hierdie bestanddele is suurstof.

Niks en niemand kan sonder suurstof lewe nie.

Nie die voëls wat daar bo die aarde vlieg nie, nie die diere wat op die aarde rondloop nie, nie die diere wat in doolhowe onder die aarde rondkruip nie, nie die visse wat in die waters op die aarde swem nie.

Nie eens die mens met al sy kennis en intelligensie kan sonder suurstof lewe nie.

In die omgewing van die Bermuda-eilande is daar ’n plek genaamd die Bermuda-driehoek en is ook bekend as die duiwels-driehoek.

Daar word beweer dat in hierdie stukkie see snaakse dinge gebeur.

Stories van vliegtuie en skepe wat hier net verdwyn.

Al hierdie gebeurtenisse en verdwynings kan tot vandag toe nog nie wetenskaplik verklaar word nie.

In Suid-Afrika het ons ook so ’n plek, ook in die vorm van ’n driehoek. Dit is die gebied tussen Ga-Nala, Ogies en eMalahleni.

Dit staan bekend as die donker-driehoek.

Die lug in hierdie omgewing is so besoedeld dat daar wragtig nie nog plek vir suurstof is nie.

Die unieke spesie van die mensdom wat in dié donker-driehoek bly, het blykbaar onbeskryflike aanpassingsvermoë ontwikkel.

Hulle floreer blykbaar op water wat ander mense in ’n hospitaal sal laat beland.

Hulle is nou ook besig om hulle vermoëns om sonder elektriese krag klaar te kom, te ontwikkel.

En dan die beste van alles, hulle floreer op die inaseming van besoedelde lug, met ander woorde hulle lewe deur koolstofdioksied in plaas van suurstof in te asem.

Want, soos ek reeds gesê het is daar wragtig nie plek vir ’n grieseltjie suurstof in die besoedelde lug van die donker-driehoek nie.

“Om behoorlik te kan funksioneer, het jou brein bloed- en suurstofsirkulasie nodig. Dit verklaar sommer baie dinge,” het die Engelsman gemor.

Sonder om uit te brei gee ek nou vir ons lesers die spasie om hul eie afleidings te maak…

 
Back to top button