Andre Blignaut (oudleerling HTS) skryf:
Ek is ‘n oudleerling van Witbank Tegnies. Het matrikuleer in 1977. Daar word gesê ‘n mens weet nie wat jy het nie totdat jy dit die dag verloor het nie. Ek het gedurende die jare met baie onderwysers en skoolhoofde pad gekruis. Nie net gedurende my skooljare nie, maar ook nou want al drie my kinders was en is by Witbank Tegnies.
Ek het Chris Broodryk daar leer ken. Ek het nooit een woord met hom gepraat nie, maar Chris Broodryk het doodeenvoudig status en respek uitgestraal. Altyd pynlik netjies, regop en het met gesag gepraat. Hy is net een van daai eenkeer in ‘n leeftyd adjunkhoofde. My kinders was mal oor hom en het altyd net met lof van hom gepraat. Hulle was lief vir hom. Sy aftrede kom al ‘n paar jaar, maar hy het finaal die besluit geneem.
Ek het altyd gewens, bly nog net een jaar. Kwaliteit leerkragte het in ons tyd ‘n skaars artikel geword. Chris Broodryk gaan ‘n massiewe leemte los in HTS, onderwys en in baie menseharte. Een wat nie maklik gevul gaan word nie.
Ek wonder hoeveel duisende kinders se lewens het hy in sy leeftyd verander? Ek sou graag as ‘n onderwyser onder hom werk en by hom leer. Gelukkig is diegene wat die geleentheid gehad het.
My bede is dat hy en sy familie ryklik deur die Here geseën word. Ek weet eendag sal Chris Broodryk die beloning kry vir al sy goeie werk op aarde, want hy verdien elke stukkie daarvan. Wat ‘n man, wat ‘n mens!
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C00F om jou nuusflitse gratis te ontvang.
