Local sportSport

Christiaan se ondervinding goud werd vir Shumba Ferro’s

Shuma Ferro’s is besig om al hul diamante blink te vryf vir die opkomende Cell C Nasionale Klub Kampioenskappe.

Een van dié diamante is die voormalige SA o.21 heelagter Christiaan Els.

Wanneer Christiaan se naam genoem word onthou mense dadelik dat hy deel was van Jake White se SA o.21-span wat die Wêreldbeker 2002 gewen het.

Hy het reeds 14 jaar terug sy rugby geskiedenis begin inkleur toe hy vir die Valke se o.18-span in die Cravenweek in aksie was.
Vir die volgende twee jaar het hy vir die Pukke en ook die Luiperds uitgedraf.

Ook as sewes speler het hy waardevolle ondervinding opgedoen in sy 2004 seisoen by die Luiperds.
Die Puma-afrigter, Jimmy Stonehouse het hom in 2007 ingekatrol om vir die Pumas te kom diens doen in die Curriebeker eerste divisie en ook die Vodacombeker-reeks.

Toe die Franse klub, Cercle amical lannemezanais hom raaksien moes hulle hom doodeenvoudig net hê en so het Christiaan Lannemezan in  die 2009/2010 seisoen vir  twee jaar lank sy tuiste gemaak.

Hy het in 2011 teruggekeer en by die Pumas Amateurspan aangesluit en ook vir Ferro’s  gespeel. Daardie jaar was hy as Ferro’s se agterspeler van die jaar bekroon.

Hy het die amateurspan se leisels in 2012 oorgevat as kaptein. Tydens Ferro’s se eindjaarfunksie het hy die trofee ontvang vir speler van die jaar.

Geskiedenis het homself verlede seisoen herhaal toe hy weereens as kaptein van die amateur opgedraf en die trofee nie net vir speler van die jaar nie maar ook die spelers se speler van die jaar ontvang het.

Marius van Rensburg, Steval Pumas se spanbestuurder onthou Christaan vir sy uitsonderlike aanvoeling vir die spel.
“Christiaan is ’n veelsydige speler wat losskakel, heelagter en senter kan speel. Dié kaliber speler hou jy mooi vas en pas hom op, want hy kan jou span na hoër hoogtes lei,” het Marius gesê.

Willie Oosthuizen, Ferro’s se afrigter het Marius se woorde beaam, “Christiaan is vir die klub ’n  steunpilaar van kennis, rustigheid en natuurlik ’n uitsonderlike speler. As spankaptein is hy ’n toonbeeld van dissipline en leef sy Christenskap op en van die veld af voluit uit,” het Willie gesê.

Willie het gesê Christiaan se ervaring is goud werd in enige span en Ferro’s gaan swaar leun op sy kennis in die Cell C Nasionale Klub Kampioenskappe.

Dié kampioenskappe skop op 8 Maart tuis af.
Geen professionele rugbyspeler speel in die toernooi nie. Dit gee vir klubrugbyspelers die kans om hul talent te toon te stel, veral aan die provinsiale afrigters wat dié toernooi met ’n fyn oog gaan dophou.

Vir plaaslike rugby-entoesiaste wag daar uithaler rugby-opwinding wanneer Ferro’s hul openingswedstryd tuis teen Wesbank al die pad van Boland af speel.

Die daaropvolgende naweek pak hulle Rustenburg Impala ook hier op die Puma Stadion.
Op Saterdag 22 Maart reis hulle Kathu toe waar Sishen die gasheer sal wees en op 29 Maart is Kaapstad die eindbestemming waar Hamilton wag.

Ferro’s het gekwalifiseer om in Poel-D saam met Wesbank, Rustenburg, Sishen en Hamilton te speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button